Vlok speel soos die senter wat in Pumatrui geskitter het.
Dit is Tukkies teen UJ en NWU Arende teen Maties in Varsitybeker
Christiaan Vlok het gisteraand die tipe vertoning gelewer wat hom by die Cravenweek een van die ster agterspelers gemaak het.
Vlok het groot belofte getoon toe hy eers vir HTS Middelburg en later vir die Pumas se Cravenweekspan uitgedraf het.
Hy is daarna Potchefstroom toe, waar hy vir die NWU Arende gespeel het.
Altyd op die regte plek
Die laaste twee jaar dra hy trots die trui van Tukkies. Dit is sy laaste jaar in die Varsitybeker en indien daar ’n provinsie is wat na ’n goeie senter soek, kan hulle op sy knoppie druk.
In Tuks se oorwinning van 51-22 oor die Johannesburg Universiteit het Vlok weer soos van ouds gespeel.
Hy het vanaf binnesenter die lyn mooi reggemaak en was altyd op die regte tyd op die regte plek.
Dit het gemaak dat hy ook ’n mooi drie gedruk het.
Halfeind wedstryde
Tuks eindig bo aan die punteleer op 31 punte en speel Maandag op sy tuisveld weer teen UJ in die halfeind wedstryd van die kompetisie.
Die NWU Arende van Potchefstroom eindig op 28 punte na ’n dramatiese wedstryd teen Ikeys, waar hulle van ’n groot agterstand moes terugveg, om met 56-53 te wen.
Maties is die ander span in die halfeind en moet na Potch reis om die NWU Arende te pak. Maties het CUT met 45-23 geklop. Hulle eindig op 26 punte.
Nuwelinge Emeris
Al die Kovsies op Middelburg sal teleurgesteld wees in Shimlas se veldtog, nadat hy gisteraand met 41-19 teen die nuwelinge, Emeris, in Durban verloor het.
Emeris het met rasse skrede verbeter en Tuks so byna verlede week geklop en nou met Shimlas afgereken, nadat hy ook met CUT klaargespeel het.
