Pumas en Griekwas in verbete stryd om bo te eindig
Jimmy Stonehouse se span het Diamantvelders in hulle visier
Dink ’n goeie verskoning uit om Vrydag vroeg by die werk weg te loop.
Nie net skop die Pumas ’n groot rugbynaweek af nie, maar speel vir eerste plek op die Curriebeker punteleer.
Die span van Jimmy Stonehouse pak Griekwas om 15:00 in die Mbombela Stadion in Nelspruit.
Na die afgelope naweek se wedstryde is die Diamantvelders net vier punte voor die Pumas met die Cheetahs in die tweede plek op die punteleer.
Griekwas is op 21, die Cheetahs het 20, Pumas 17, Boland 16, Leeus 13, Stormers 11, Haaie 10 en Bulle drie.
Griekwas moet na Vrydag weg teen die omgekrapte Boland speel en die Pumas tuis teen die Vrystaat Cheetahs, wat deesdae nuwe lewe het, met Frans Steyn wat die sweep klap.
Die Cheetahs behoort Sondag met Boland in Bloemfontein af te reken.
Griekwas, Pumas, en Cheetahs behoort in die uitspeelwedstryde betrokke te wees met Boland en Leeus wat dit waarskynlik om die vierde plek sal uitspook.
Die Leeus het Vrydag met 38-29 teen die Boland verloor. Griekwas het die Haaie 55-21 geklop. Die Pumas was met 29-7 baas teen die Stormers en die Cheetahs het die Bulle 52-62 geklop.
Vrydag speel die Pumas om 15:00 teen Griekwas, die Bulle en Stormers is om 17:05 slaags in Pretoria, die Haaie speel tuis teen die Leeus 19:05, die Cheetahs is Sondag tuis teen die Boland in aksie om 15:00.
Die Bokke en All Blacks speel Saterdag in Johannesburg teen mekaar.
