Boeties vertroos mekaar

Net etlike treë vanaf die plek waar hul pa in 'n motorfietsongeluk gesterf het, het twee seuns mekaar vertroostend omhels.

Mnr. Louis Barnard (51) is Woensdagmiddag opslag dood in ‘n motorfietsongeluk in Oranjestraat (reg oorkant die ingang na Virgin Active).

Sy seun, Louis jnr (30), het voor gery met sy motorfiets en die twee het vanaf Midwater Spar se rigting afgery in Oranjestraat.

Toe Louis jnr. by die verkeerslig (hoek van Oranje- en Samora Machelstraat) kom, het hy besef sy pa ry nie meer agter hom nie.

Hy het teruggedraai en sy pa in die pad gekry waar sy motorfiets en die voertuig van mnr. Kobus Lombard (70) gebots het. Hy het met sy pa probeer praat en hom ook probeer help, maar hy was reeds dood.

Die jong man het lank nadat sy pa deur paramedici dood verklaar is, nog geskok in ‘n bondeltjie op die sypaadjie bly sit.

Mnr. Barnard se vrou, Corlene, het minute later ook op die toneel opgedaag en is in die ambulans vir skok behandel.

Mnr. Barnard se ander seun, Eben (27), het sekondes nadat hy tuisgekom het, die nuus van sy pa se ongeluk gekry en na die toneel gejaag. Met sy aankoms, het sy broer hom vasgegryp en het die twee mans snikkend op die pad gekniel.

Volgens mnr. Barnard se vrou, Corlene, het pa en seun Woensdag na Midwater Spar gery om vleis vir ‘n braai te koop. Die twee het besluit om sommer met die motorfietse te ry.

“Ek het nog vir hom gesê om sy baadjie aan te trek voor hy gery het….”

Me. Barnard sê sy is aangesê om nié na die toneel te gaan nie. “Ek het net in my hart gevoel ek móét gaan. In my hart het ek ‘n bietjie vrede omdat ek daar was, maar dit gaan nog lank vat om heeltemal vrede te hê, want ek gaan Louis vir altyd mis.”

Die egpaar was vir 13 jaar getroud en sy onthou met ‘n hartseer glimlag al die goeie tye, omdat haar man so ‘n platjie was. “Louis het altyd met almal gek geskeer en grappe gemaak. Hy was die wonderlikste man, my steunpilaar en die beste ding wat ooit in my lewe met my gebeur het.”

Mnr. Barnard word oorleef deur me. Barnard en sy seuns Louis, Eben en Ian.

• Teen druktyd was daar nog geen begrafnisreëlings getref nie. Me. Barnard het aangedui dat die begrafnis uit die Hervormde Kerk, Noord gemeente, gehou sal word. Persone wat navrae het oor die begrafnis, kan haar bel by 072 371 8821.

• Die munisipale bestuurder, mnr. Willie Fouché, het mnr. Barnard as ‘n staatmaker beskryf as die netwerk kontrole beampte in die elektriese afdeling by die Steve Tshwete Munisipaliteit. Mnr. Barnard het die afgelope 16 jaar by die stadsraad gewerk (nog ‘n berig verskyn op bladsy drie).

Back to top button