Pasiënt aan bed vasgeboei
Deurmekaar van 'n oordosis pille is 'n pasiënt by die Middelburg Hospitaal met boeie aan 'n bed vasgemaak en, volgens sy familie, aangerand.
“Hy het ingegaan vir behandeling na ‘n oordosis en in plaas van behandeling is hy aangerand en aan ‘n bed vasgeboei.”
Dit was die bitter woorde van me. Alta Kotze nadat hulle Saterdag in die vroeë oggendure haar seun, MJ (28), vasgeboei en beseer aan ‘n bed in die Middelburg Hospitaal gekry het.
Sy vriendin, Ansie Meyer, vertel dat hy die afgelope ruk erg depressief was omdat hy as gekwalifiseerde ketelmaker nêrens werk kon kry nie.
Hulle het alles verloor na beloftes van werk in Durban op niks uitgeloop het nie. Hul voertuig het verder oppad soontoe gebreek en het duisende rande aan herstelkostes beloop.
Die paartjie het teruggekom Middelburg toe en by sy ouers kom bly.
Vrydagmiddag het hy gesê “dat hy ‘n rukkie wil gaan lê”. Hulle het geen onraad vermoed nie en hom laat begaan. Toe me. Meyer ‘n ruk later besluit sy wil by hom gaan inkruip, het sy besef daar is groot fout.
Sy mond was droog en hy was erg deurmekaar. Hy het ook gehallusineer en het aggressief geraak.

Sy het besef dat hy ‘n oordosis antidepressante gedrink het.
Hulle het dadelik ‘n ambulans gebel en hy is afgevoer hospitaal toe.
Met hul aankoms by die hospitaal, is hulle aangesê om te wag, aangesien daar nie dadelik ‘n bed beskikbaar was nie.
Me. Meyer onthou dat ‘n dokter by ongevalle gesê het dat hulle vir hom aarvoeding sal opsit en dat hulle hom vir die nag gaan hou vir waarneming.
Beide vroue het verskeie kere vir hospitaalpersoneel gesê dat hy erg deurmekaar, aggressief en verward is weens die oordosis pille wat hy gedrink het.
Na ‘n lang ruk was daar ‘n bed beskikbaar by saal 15. Hy het gou aan die slaap geraak.
Voor hul vertrek het me. Meyer personeel weer herinner dat hy deurmekaar en aggressief was en as daar ‘n probleem is, kan hulle haar enige tyd van die nag kontak.
Omstreeks 02:45 is me. Kotze deur haar seun wakker gebel. Sy het haar boeglam geskrik toe MJ van ‘n vreemde selnommer af bel en sê dat hy aangerand is.
Me. Kotze het gedink hy het in sy deurmekaar toestand weggeloop en dat hy in die straat aangerand is.
Hulle het dadelik hospitaal toe gejaag. Met hul aankoms was hy nie in die kamer waar hy opgeneem is nie en hulle het angstig na hom gesoek.
Niks kon hulle voorberei op dit wat hulle in ‘n ander kamer gekry het nie.
MJ was aan ‘n bed vasgeboei en knoppe aan sy kop en gesig en merke aan sy bene en arms was ‘n duidelike aanduiding dat hy geslaan is.
Op hul vrae aan verpleegpersoneel is daar net gesê “dat hy deur die venster wou klim”.
Me. Meyer het antwoorde gesoek en het ook begin foto’s neem van sy beserings.
Se sê ‘n verpleegster het haar verbied om foto’s te neem en wou haar foon vat, maar sy het dit duidelik gestel dat hulle dit nie by haar mag vat nie.
Hulle het daarop aangedring dat MJ se hande losgesluit moet word. “Dit was so styf dat hy nie sy hand kon beweeg nie. Die een wat hom met die boeie aan die bed vasgeboei het, was skielik weg en ons het byna ‘n halfuur gewag dat hulle hom kom losboei.”
“Hulle werk daagliks met aggressiewe en geestesversteurde pasiënte. As hy aggressief geraak het, kon hulle hom mos iets gespuit het? Hoekom moes sekuriteit hom so aanrand?”
Me. Meyer sê sy het vir personeel gesê dat sy die koerant gaan nader rakende die aangeleentheid.

“Een van hulle het net laggend gesê: Another white running to the newspaper.”
• Die vroue het aangedui dat hulle regstappe gaan neem.
• Mnr. Philemon Letlalo (Hoof Uitvoerende Beampte, Middelburg Hospitaal) het Maandagoggend nog nie van die voorval geweet nie.
Hy het gemeld dat hy eers ondersoek moet instel, alvorens hy kommentaar kan lewer.
Mnr. Letlalo het gesê dat pasiënte soms wel vasgeboei word om te keer dat hulle hulself beseer of wegloop uit die hospitaal uit. Hy het dit duidelik gestel dat pasiënte onder geen omstandighede aangerand mag word nie.
