Rugbyspeler val met motorfiets
Een van die stutte van Hoërskool Middelburg se eerste rugbyspan, Duane van Wyk (17) het erge snywonde en harsingskudding opgedoen in 'n motorfietsongeluk, op 'n plaas Vrydagmiddag 14 November.

“‘n Mens skrik jou deur die mik as jou seun sê hy gaan uiteet by die Spur saam met sy vriend en jou die volgende oomblik bel en sê hy is oppad hospitaal toe!” het Duane se ma, Deidré, Maandagoggend gesê.
Duane sou saam met vriende by Spur gaan eet en daarna op ‘n plaas gaan kuier. Met hul aankoms op die plaas (Keerom) het Duane met ‘n veldmotorfiets gaan ry en op los grond gegly. Met die valslag het sy nek een van die drade getref en sy slukderm was vir ‘n rukkie seer.
Hy het gelukkig nie ernstige beserings aan sy nek opgedoen nie.
Duane het egter harsingskudding en erge snywonde aan sy gesig, arms en bene opgedoen. ‘n Diep wond tussen sy neus en mond moes onder verdowing by die Life Midmed Hospitaal met steke geheg word. Hy sal vroeg hierdie week ‘n ortopeed gaan sien oor moontlike breuke aan sy enkel en toon.
Hy het vir sy ma vertel dat sy toon heeltemal opgestaan het ná die ongeluk “en toe trap hy die toon sommer weer reguit soos hulle in die rolprente maak!”
• Nog ‘n eerstespan rugbyspeler van Middies, Matthys Schwartz, wat ook stut vir die span speel, word tans in die Midmed Hospitaal behandel, nadat hy ‘n elektriese skok opgedoen het (berig elders).
• Die gesin wil graag die Life Midmed Hospitaal se ongevalle dokter en personeel bedank vir hul professionele diens.