Twee wat wegloop opgespoor

"Ons het hulle net betyds van die straat af gehaal. Hulle is veilig en hulle probeer vir hulself 'n beter lewe maak." Twee seuns wat in Oktober as vermis aangemeld is, is in Malelane opgespoor.

‘n Middelburg Observer leser het per boodskap laat weet dat haar vriendin die twee in die Laeveldse dorpie gesien het.

Pieter de Souza (20) en Tony Ajam (18) is by die polisie deur hul families as vermis aangemeld, nadat hulle uit Noupoort weggeloop het. Hulle is kort daarna in Middelburg gesien, maar het toe soos ‘n groot speld verdwyn.

‘n Man van Malelane vertel dat hy die twee seuns langs die pad oppad Hectorspruit toe gesien ryloop het.

“Ek is nie eintlik een van daai ouens wat by mense langs die pad stop nie. Toe ek verby hulle ry het ek reguit voor my gekyk,” vertel die man. Hy word op versoek anoniem gehou.

Die man vertel dat sy motor se waarskuwingsliggies almal aangegaan het die oomblik toe hy verby die seuns ry. Die seuns het aangehardloop gekom toe hy aftrek om te kyk wat fout is.

“Toe ek my motor aansluit was al die liggies weg. Al wat ‘n liggie was het geflikker en toe is alles skielik weer net dood normaal. Ek het dit as ‘n teken gesien, dat ek die seuns moet help en my vrou gebel.”

Die man en sy broer het die seuns ingeneem. Hulle het vertel dat hulle van Middelburg is, pas uit ‘n rehabilitasie sentrum ontslaan is en na die Laeveld gekom het om ‘n nuwe lewe te begin.

“Ek het vir hulle die kans gegee wat niemand my tien jaar gelede wou gee nie. Ek is ook daardeur. Ek het ook in Middelburg gebly, ek ken die drugsituasie daar.”

Hy sê dat die seuns toe reeds twee weke in Malelane was en in ‘n verlate huis, wat afgebrand het, skuiling gesoek het. Elkeen het ‘n plastiek sak met twee T-hemde in gehad.

Beide seuns het nou werk. En volgens die man gaan dit baie goed met hulle.

“Ons het dit nie maklik nie, maar ons het geld bymekaar geskraap en vir hulle ‘n selfoon en klere gekoop.”

Die man sê dat die seuns bereid was om enige iets te doen, selfs om suikerriet te kap. Hy het vir beide werk gereël en uit die staanspoor oop kaarte met hul nuwe werkgewer gespeel.

“Die man bel my elke dag met ‘n update. Hy sê amper elke keer vir my dankie dat ek hulle vir hom gebring het. Hulle is ‘n aanwins vir sy besigheid en is altwee permanent aangestel. Dit is ‘n wonderwerk dat hulle hierdie tyd van die jaar werk gekry het.

“Dit is vir my duidelik dat hulle ‘n nuwe lewe wil maak. En dat hulle regtig hard probeer. Dit is hoekom dit so goed gaan met hulle. Ons het vir hulle gesê hulle kan rook en drink, maar as hulle ander goed doen gaan ons hulle self op***. Ek sal hulle maar vanaand aanvat oor die feit dat hulle vir ons gejok het oor hulle weggeloop het.”

Die man het gesê dat hy met De Souza se ma in verbinding gaan tree, om haar gerus te stel dat haar seun veilig is.

“Ek sal vir hulle sê dat hulle hul ma’s moet bel, maar dit bly hul keuse of hulle dit wil doen of nie.”

Back to top button