Moes vloeistof drink met pistool teen kop

Bedwelmd en geskok het 'n man Saterdagoggend 29 November langs die Klein Olifantsrivier in Mhluzi wakker geword, nadat hy die vorige nag deur vier rowers gekaap is.

“Dit is ‘n wake up call. Dit gebeur so vinnig! Ek kan net dankie sê dat ek nie vandag in ‘n kis is en my familie begrafnis moet hou nie!” het die man (wat verkies om anoniem te bly uit vrees vir sy lewe) Maandagoggend uitgeroep.

Hy het Vrydagaand gewerk tot omstreeks 23:00 by ‘n besigheid in Weeberstraat. Daarna het hy in Meyerstraat afgery, oppad na sy huis in Kanonkop.

Sy bakkiedeure was wel gesluit, maar sy venster was oop, omdat hy ‘n roker is. Op die hoek van Cowen Ntuli- en Meyerstraat, was die verkeerslig rooi en het hy gestop. Sy voertuig het pas tot stilstand gekom “toe iemand ‘n pistool teen my kop druk, die deure oopsluit en vier mense by my in die voertuig spring.”

Met die pistool teen sy kop is hy gedwing om ‘n vloeistof te drink. “Daarna onthou ek niks. Ek het Saterdagoggend wakker geword in my bakkie langs die rivier. Ek kén ‘n babelaas, maar hierdie was tien keer erger. Ek voel nou nog nie reg nie.”

Sy vrou vertel dat sy omstreeks middernag bekommerd geraak het, omdat hy sowat ‘n uur vantevore gesê het dat hy “amper klaar” is met die werk. Sy het aanmekaar na sy selnommer toe gebel, maar dit is die heeltyd net doodgedruk. Teen 04:00 was die foon net af.

Sy was nie seker of sy die polisie moes nader nie, aangesien hy gereeld uitgeroep word en sy op ‘n stadium gedink het dat hy dalk weer ‘n uitroep gehad het en besig was.

“Toe hy kort na 07:00 by die deur instap, het ek dadelik besef daar is fout. Hy was getraumatiseer en het geskree: ‘Ek is gekaap!”

Hulle is dadelik polisie toe en het later ook bloed laat trek, om te probeer uitvind wat die kapers hom ingegee het. Teen druktyd was die uitslae nog nie beskikbaar nie.

• Sy vrou het aangedui dat sy hom vir traumaberading wil vat.

• Slegs sy selfoon, R150 kontant en die gesiggie van die radio, word vermis.

• Op 4 September vanjaar het die stasiekommissaris van Delmas, kol. Jannie van Tonder, net buite Middelburg op die Bethalpad, wakker geword.

Hy het die vorige dag as groepbevelvoerder polisiestasies besoek. Tussen Vosman en eMalahleni het kol. Van Tonder ‘n verdagte trok langs die pad opgemerk en gestop. Daar het kort daarna ‘n voertuig met blou ligte en mans in polisie-uniform op die toneel stilgehou. Hulle was gewapen met R5 aanvalsgewere.

Die bende het sy selfoon, dienspistool en voertuig, geroof en hom met ‘n wapen teen sy kop gedwing om, soos met die gebeue Vrydagaand, ‘n vloeistof te drink.

Die volgende oggend het hy op die pad net buite Middelburg wakker geword en ‘n selfoon hoor lui. Kol. Van Tonder het sy eie selfoon tussen die bosse gekry en sy vrou laat weet om die polisie te kontak.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Back to top button