Kaalbas in die reën
Twee mans, wat 'nogal sag op die oog' was, het in hul adamspakke gesorg vir 'n gegiggel toe hulle vir motoriste by verskeie plekke in die dorp gedans en gesing het.

“Dit was classic!” vertel Zillika Lötter. Sy het die mans by die verkeerssirkel langs McDonalds by die Middelburg Mall teëgekom.
Sy sê dat hulle daar gestop het in ‘n silwer BMW X5.
“Hulle het eers al om die sirkel gehardloop en toe gedans en gesing in die reën. Die een het gemaak asof hy in die teerpad swem.”
Die mans het Kurt Darren se treffer “Heidi” luidkeels gesing. Nie een van hulle het ‘n draad klere aangehad nie.
“Nie eers ‘n kous nie” giggel mev. Lötter.
“Hulle het omtrent my dag gemaak. Daar was baie mense by die sirkel en almal was effe geïrriteerd. Ons almal het lekker gelag toe die twee daar opdaag. Mense het nie geweet of hulle moet ry of bly nie.”
Madelein Sinclair sê dat sy hulle voor Tracers in die teerpad gekry het.
“Hulle het al om die karre gesing en gedans.
Die mense het vreeslik gelag.”
Sy sê dat sy die twee mans ken, maar dat hulle gevra het dat sy nie hul name bekend maak nie. Hulle het aan haar gesê dat hulle die dag by ‘n paar plekke gaan stop en dans.
“Mens is net een keer jonk, jy moet leef!” het hulle aan haar verduidelik.
• Het jy hulle gesien? Het jy dalk ‘n foto geneem? Stuur dit gerus na jana@mobserver.co.za