Bye takel swanger vrou

'n Swanger vrou is Saterdag deur beserkte bye getakel en sy en haar tuinhulp moes later behandeling ontvang.

‘n Teatersuster van die Life Midmed Hospitaal, sr. Lelanie Ferreira (wat 31 weke swanger is) het Saterdag haar ouers paniekerig vanaf Hospitaalstraat (Clubville) gebel, omdat niemand wat sy gevra het vir hulp, by die erf kon ingaan nie.

“Dit was verskriklik! Ons moes jaag vanaf Kanonkop na Clubville en die beurtkrag wat verkeersligte af gehad het en ‘n begrafnisstoet voor ons, het ons gesukkel om gou daar te wees,” het sr. Ferreira se ma, Daleen du Bruyn, Maandagoggend vertel.

Met hul aankoms was sr. Ferreira reeds sowat 10 keer deur die bye gesteek, omdat sy haar hondjie by die huis wou inlaat en die bye in die huis ingegaan het.

Die byekorf wat gesorg het vir die drama.
Die byekorf wat gesorg het vir die drama.

Sy het op daardie stadium haar driejarige dogtertjie, Michaela, in ‘n wasgoedmandjie met handdoeke bo-oor, gedruk om te keer dat ook sy erg gesteek word. Michaela is gelukkig slegs een keer gesteek.

Terwyl die bye me. Du Bruyn, haar man, Piet, en ander dogter, Lelanie, ook aanmekaar gesteek het, het hulle in die erf ingegaan en hulp probeer verleen. “Ons het ‘n alarmbesigheid, die brandweer én ambulansdienste gebel, maar niemand kon in die erf ingaan nie!”

Die Du Bruyn egpaar het daarop handdoeke oor hul dogter en kleindogter gegooi en, terwyl hulself ook geniepsig deur die bye gesteek word, na die kar gehardloop.

Johanrie du Bruyn en haar ma, Daleen du Bruyn, is ook deur die bye gesteek.
Johanrie du Bruyn en haar ma, Daleen du Bruyn, is ook deur die bye gesteek.

Die Gholfsig/Clubville GPF en radiogroep het die gille gehoor en gedink dat me. Ferreira aangeval word, waarop ‘n noodroep uitgestuur is.

Van die lede het hul na die huis gehaas, waarop hulle gesien het dat almal deur die bye gesteek word. Die radiogroep het mnr. Ian Mey (byeboer) uitgeroep. Mnr. Mey moes ter wille van die veiligheid van die gesin, die bye doodmaak.

Me. Ferreira is na haar dokter gehaas, waar sy adrenalien-inspuitings en ander medikasie moes kry, omdat sy allergies is vir bye. Hulle het haar ook na die Life Midmed Hospitaal se kraamsaal geneem waar gekyk is of alles nog reg is met die baba.

Me. Ferreira se tuinhulp, mnr. James Ramushu, is sowat 80 keer deur die bye gesteek. Ook hy moes later medikasie ontvang. “Ons het hordes angels uit sy kop en lyf gehaal!” het me. Du Bruyn gemeld. Me. Ferreira se worshondjie het kort daarna in die huis gevrek.

Me. Du Bruyn was hewig ontsteld dat hulle nie hulp kon kry van die genoemde beskermingsdienste nie. “So as ‘n swerm bye ‘n kleuterskool of ouetehuis aanval, gaan almal doodgesteek word?” het sy uitgeroep.

Mnr. James Ramushu ag homself gelukkig dat hy die bye-aanval oorleef het, aangesien hy sowat 80 keer deur die bye gesteek is.
Mnr. James Ramushu ag homself gelukkig dat hy die bye-aanval oorleef het, aangesien hy sowat 80 keer deur die bye gesteek is.

Sy is van mening dat al die nooddienste nommers moet hê van iemand wat kan uitkom om bye te verwyder.

• Mnr. Ramushu was besig om gras te sny, toe die bye, wat in ‘n pyp aan die voorkant van die erf was, beserk geraak het.

• Bekende byeboer, Martin Nel, sê hy het die noodroep op die radio gehoor, maar mnr. Mey is soontoe, voordat hy kon gaan hulp verleen. “Die brandweer hét my nommer.”

Hy sê die bye het beserk geraak oor die vibrasies van die grassnyer, asook die reuk van vars gesnyde gras.

Volgens hom het die hitte baie daarmee te doen en waarsku hy mense om baie versigtig te wees. “Probeer in die oggend al 06:00 die gras te sny as daar bye in die omgewing is! As dit warm is, gáán hulle jou takel.”

Hy het genoem dat parfuum wat vroue dra, ook die bye na hulle toe aanlok as die bye beserk is.

Mnr. Nel is 24 uur beskikbaar, maar, voeg by, dat hy ‘n uitroepfooi vra, aangesien hy self ook omsien na 400 korwe.

Persone wat probleme met bye ondervind, kan hom bel by 083 655 0179.

• Twee weke gelede is mnr. Nel uitgeroep na die huis van mnr. Chris Wessels in Aerorand toe bye sy honde getakel het. Al drie die honde, waaronder ‘n dragtige teef, is egter doodgesteek.

• Mnr. Nel moes Sondag na Pretoria pendel om bye te gaan uithaal “nadat vier mense in die hospitaal in gesteek is!”

Back to top button