Deposito kluise opgeblaas

Rowers het Donderdag 11 Desember eers die Alzu Petro Port se Absa depositokluise (dropbox) met plofstof oopgeskiet en terwyl die polisie op dié toneel was, ook die Engen Midwater se depositokluis die lug in geblaas.

Mnr. Gerrie du Toit (eienaar Alzu Petro Port en Engen Midwater) het Donderdagoggend gesê dat dit “professionele mense hierdie is!

Hulle het die plofstof ingesit en presies geweet waar om te staan. Hulle het nie eers vyf tree ver daarvandaan gestaan nie!

En toe hulle klaar was, het hulle gewéét dit gaan die polisie lok. Hulle het van hier af net gery na die Engen by Midwater en dieselfde daar gedoen!”

Mnr. Du Toit sê die groep van vyf, wat kort na middernag by Alzu toegeslaan het, het balaklawas en handskoene gedra, ‘n groot wapen (‘n R5 aanvalsgeweer of AK47), asook handwapens.

Die depositokluis wat by die Engen vulstasie by Midwater opgeblaas is. Die rowers het die kluis na buite gedra en met plofstof oopgeskiet.
Die depositokluis wat by die Engen vulstasie by Midwater opgeblaas is. Die rowers het die kluis na buite gedra en met plofstof oopgeskiet.

“Hulle het nie die mense seergemaak nie en wou hulle nie doodmaak nie. Hulle het die Petro Port dopgehou en seker gemaak daar is nie kliënte nie. Daarna het hulle die joggies en sekuriteit met hul wapens gedreig om ‘eenkant toe te staan’. Die kassier moes op die grond gaan lê. Hierdie ouens is ou jakkalse!”

Die depositokluise is na buite gedra voordat dit met plofstof oopgeskiet is.

Kort ná die gebeure het verskeie eenhede van die polisie na die toneel gehaas en begin met die ondersoek. Hulle was egter nie lank op die toneel nie, toe kom inligting deur dat presies dieselfde groep toegeslaan het op Engen Midwater.

Die twee aanvalle was presies sowat ‘n uur uitmekaar.

Mnr. Du Toit het gemeld dat hy dankbaar is dat daar nie van sy personeel beseer of dat daar lewensverlies was nie.

• Die Petro Port was vroeg weer oop vir besigheid en mnr. Du Toit het gesê dat hulle reeds van 04:00 af besig was met herstelwerk en dat alles teen 09:00 weer normaal voortgegaan het.

Back to top button