Nóg hekmotors gesteel

Inwoners in Kanonkop en Gholfsig het weer deurgeloop onder 'n vlaag hekmotor diefstalle.

Nagenoeg sewe hekmotors is die afgelope paar dae in die omgewing van Essenhoutstraat en Jasmynstraat gesteel. Tydens al die voorvalle is die motors netjies verwyder.

“Dankie vir die skroewe en moere wat hy vir my agter gelos het,” het ‘n vies me. Alet Hattingh Maandagoggend gesê. Sy sê dat haar honde teen 20:00 Sondagaand die heeltyd na buite wou gaan waar hulle in die donker geblaf het.

“Ek gaan nie so dom wees om in die donker in te loop om te gaan kyk wat fout is nie.”

Maandagoggend het sy gesien dat haar hekmotor skoonveld is.

Me. Anelene Muller het op die Middelburg Observer se Facebookgroep gesê dat haar hekmotor Dinsdagaand gesteel is. Sy bly in die omgewing van Laerskool Kanonkop. Volgens haar het haar buurman getel dat daar sewe motors in hul onmiddellike omgewing gesteel is.

Ook haar hekmotor is netjies verwyder met die boute wat steeds op die gras lê.

Kaptein Khanyisile Zwane het bevestig dat daar oor die naweek sewe voorvalle van hekmotor diefstalle in Gholfsig aangemeld is en vyf die afgelope paar dae in Kanonkop.

Sy sê dat dit duidelik is dat iemand ‘n mark het om die gesteelde motors weer te verkoop en slagoffers versoek om die diefstalle aan te meld en enige inligting aan die polisie deur te gee sodat die skuldiges gevang kan word.

Beskerm só jou hekmotor teen diefstal:

Centurion Hekmotors se webblad www.centsys.co.za gee die volgende wenke:

• Sit jou motor in ‘n diefstalwerende hok. Maak seker dat die metaalhok deur ‘n gerespekteerde vervaardiger gemaak word, omdat goedkoop produkte niks meer as ‘n versiering is nie. • Gebruik ‘n slot wat deur versekeringsinstansies erken word om die metaalhok toe te sluit.

• Dit is belangrik om voorvalle van diefstal by die polisie aan te meld. Dit help owerhede om tendense raak te sien en mannekrag daarop toe te spits.

• Registreer jou hekmotor. Sekere instansies, soos Centurion, bied ‘n diens waarmee jy die reeksnommer van jou motor kan registreer op ‘n databasis. Dit kan dan weer gebruik word om jou motor op te spoor as hy gesteel word.

• Alarmmaatskappy ADT raai aan dat jy ‘n staalhakkie, nie hoër as een sentimeter, bo jou hek vassweis. Dit sal verhoed dat jou hek van sy spoor afgetel kan word.

Oorweeg innoverende tegnologie:

• Centurion het “Break-in and Ambush Alarms” wat by hekmotors geïnstalleer kan word. Dit sluit infrarooi strale in wat aan eksterne gonsers, waarskuwingsligte of alarms gekoppel kan word. Enige iemand wat te lank voor jou hek rondstaan of probeer om jou hekmotor by te kom, kan so afgeskrik word.

• Jy kan ‘n toestel aan jou hekmotor koppel wat sal veroorsaak dat die motor ‘n sms na jou foon stuur in sekere gevalle. So kan jy jou hek en hekmotor monitor van jou selfoon af, asook die hek oopmaak vir sekuriteitsmaat-skappye of die polisie as jy nie by die huis is nie.

• Gaan kyk op die Middelburg Observer webtuiste (www.mobserver.co.za) na die video waar ‘n verdagte een van die hekmotors steel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button