Tiener breek nek
'n Vyftienjarige seun van Mineralia het sy nek op twee plekke gebreek nadat 'n waaghalstoertjie vanaf hul huis se dak na die swembad skeefgeloop het.

Ruben Espach (15) het Maandag sy nek gebreek en weefsels op sy arm beskadig toe hy probeer het om van hul huis se dak af in hul swembad se diepkant te spring. Hy het langs die swembad op die teëls te lande gekom. Sy pa, Chris, vermoed dat Ruben moontlik gegly het.
Jané (13), sy sussie, het langs die swembad gestaan en tevergeefs probeer om haar boetie te keer terwyl hy die 4,7 meter sprong aangedurf het.
Ruben se ma, Trudie, en sy broer, Wickus (18), was in die sitkamer besig om televisie te kyk toe hulle Jané om hulp hoor roep.
“Wickus het na my toe gehardloop en geskree, ‘Mamma hy’s dood, mamma hy’s weg!'” vertel me. Espach van die gebeure.
Sy onthou sy oë was omgedop toe sy hom langs die swembad kry. “Ek het só groot geskrik, ek wil daardie oomblik nooit, ooit weer oor hê nie!”
Ruben het intussen sy bewussyn herwin en me. Espach het vir Wickus gevra om Ruben in hul bakkie te laai en na die Life Midmed Hospitaal te haas. “Ons het so groot geskrik dat ons nie eers daaraan gedink het om die ambulansdienste te kontak nie,” sê Wickus.
Me. Espach het haar man, wat sowat 30 km buite Middelburg werksaam was, van die voorval ingelig. Dié het binne 10 minute, nog voordat Ruben opgeneem is, by die hospitaal stilgehou.
Ruben is in die intensiewe sorgeenheid opgeneem en Woensdag na die gewone saal oorgeplaas. “Ons kon Maandag sy begrafnis bygewoon het, maar die Here het sy hand oor hom gehad,” sê mnr. Espach dankbaar.
Die gesin bedank al die personeel van die Life Midmed Hospitaal wat baie behulpsaam was, asook die gemeenskap wat Ruben “gedra het in hul gebede”.
Volgens mnr. Espach sal Ruben met tyd ten volle herstel, maar sal hy nog ‘n geruime tydperk in die hospitaal moet deurbring.
“Ons vat dit dag vir dag,” het mnr. Espach ter afsluiting gesê.
• Die gesin het gemeld dat Ruben se dokter sal bepaal wanneer hy weer kan terugkeer skool toe.