“Gentle giant” aan Suidkus vermoor
Oud Middies stut Vincent Enslin is oor die afgelope naweek in 'n woonstel in Pennington aan die KwaZulu Natalse kus vermoor.
Enslin (32), sy oom, Hendrik Heyns, en ‘n vriendin (identiteit onseker) is Saterdagoggend om en by 03:00 deur rowers in hul vakansie woonstel oorval.
Volgens Vincent se stiefma, Elbie de Jager, is dit steeds nie duidelik wat presies gebeur het nie.
“Hulle het sy hoof slagaar afgesteek. Of hy wakker was en toe terug op sy bed gesak het, en of hulle hom gesteek het terwyl hy nog geslaap het, dit weet ons nie.”
Rowers het mnr. Heyns in sy hand tussen twee vingers tot op die been gesteek asook in sy wang. Mnr. Eslin is in die nek gesteek.
Marche Fick het op Facebook vertel hoe sy deur drie rowers vasgebind is. Sy het losgewikkel toe ‘n man om hulp roep.
Toe sy haar na die slaapkamer haas waar mnr. Enslin was, het sy in ‘n plas bloed langs sy bed gegly. Hy was reeds dood.
Die rowers het alles wat hulle kon, in ‘n motor gelaai en gevlug. Die voertuig is die volgende dag, nie ver van die toneel af nie, met alles binne-in gekry.
“Vir wat nou iemand sommer net so vermoor? Plaas vat hulle wat hulle wil vat en gaan. Ons wil nie woede he nie, want woede sal jou siek maak.
Maar op die oomblik voel dit of ek iemand kan dood spoeg,” het me. De Jager vertel.
Mnr. Enslin sal deur die wat hom geken het as ‘n “gentle giant” onthou word, ‘n grootman met ‘n klein hart wat altyd gelag het.
Mnr. Enslin word vandag (Woensdag) in Amanzimtoti, waar sy ma bly, veras. Daar sal op Vrydag 2 Januarie om 11:00 vir hom ‘n roudiens vanuit die Corpus Christi kerk in Aerorand Middelburg gehou word.