‘Dief’ in sloot gevang
Die gereg het twee vlieë met een klap geslaan toe 'n vermeende koperkabeldief vasgetrek is.
‘n Vlaag spilpuntkabel diefstalle in die Leeupoortjie en Driefontein omgewing is hopelik op ‘n einde, nadat een van die kabeldiewe Dinsdagoggend in ‘n sloot vasgekeer is naby Doornkop. Boere in die omgewing het uit desperaatheid die hulp van WIPS sekuriteit ingeroep.
Die sekuriteitswagte was Maandagaand op die plaas Driefontein aan diens.
Die aand net na 01:00 is daar weer deur kabeldiewe toegeslaan. Die WIPS sekuriteitswagte was egter warm op hulle spoor. Twee verdagtes het in die rigting van Doornkop gevlug.
Een van die verdagtes het in ‘n diep sloot gespring, wat ‘n boer om sy lande gegrawe het, in ‘n poging om diewe uit te hou.
Hy het sy rieme styfgeloop toe hy deur diep water in die sloot vasgekeer is en nie daarin kon slaag om uit die sloot te klim nie.
Andries Sefola (39) is na bewering in besit van R15 000 se koperkabels gevang. Hy is van diefstal aangekla.
Toe die polisie na sy huis in Doornkop is om sy woonadres vir borgdoeleindes te bevestig, het hulle op ‘n dagga plantasie afgekom. Die eienares van die huis, Thandi Tsotetsi (36), is gearresteer en aangekla van die besit en kweek van dwelms.
Beide het reeds in die hof verskyn.