Vermeende motordief betrap

'n Staatmaker reaksieman van Mid-Alarms, het sy hoeveelste sukses in 'n kwessie van maande gehad.

Mnr. Shane van Rooyen, wat altyd op die voorlinie is en verlede jaar penne in sy regterarm moes kry na ‘n skietvoorval, sê hulle is die oggend van 5 Januarie omstreeks 04:45, deur die beheerkamer in kennis gestel van ‘n motordiefstal in volle swang in John Coxstraat.

Sy kollega, mnr. Beneen Groenewald, het hom afgelaai om ‘n Toyota bakkie agterna te sit, wat tydens hul aankoms, naby die adres verby gery gekom het.

In sy soektog het hy ‘n wit VW Polo in ‘n oprit geparkeer sien staan.

Hy het om die motor gestap en skielik ‘n skuurgeluid gehoor en toe hy oor die kar na die anderkant loer, sien hy ‘n groen mus by die onderstel uitsteek.

“Die man het probeer hardloop, maar ek het my pistool oorgehaal, waarna hy in sy spore gevries het,” vertel mnr. Van Rooyen.

Hy het die man op sy knieë gedwing en so, voor die kar, laat staan tot die polisie opdaag.

Tydens die arrestasie is daar op musiektoerusting, wat in die Polo toegesluit was, afgekom.

“Ons weet nie hoe hy in die kar gekom het nie, want daar was geen gedwonge toegang nie.”

Mnr. Van Rooyen het die eienaar van die kar gaan wakker klop, wat bevestig het dat die motor en die klanktoerusting, aan hom behoort.

“Die dorp is ‘n beter plek met Shane, hy’s vreesloos teen misdaad,” het die operasionele Mid-Alarms hoof, mnr. Drikus Oosthuizen, aan die Observer gesê.

• Mnr. Bogoshi Maduzi het Dinsdag in die hof verskyn op ‘n klag van diefstal uit ‘n voertuig.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button