Wakker Wielietjies hou slang weg

Wielietjies, 'n Jack Russell, het met sy aanhoudende geblaf seker gemaak dat 'n rinkhals nie naby 'n baba kom nie.

Me. Magda Reyneke kry steeds koue rillings as sy dink wat kon gebeur het as die slang haar 19 maande oue baba, Duan, gepik het.

Sy en Duan was buite by hul huis in Hexrivierstraat (Aerorand) en die knapie het tog te lekker met sy bal gespeel.

Hul Jack Russell, Wielietjies, was egter baie senuweeagtig en me. Reyneke het gewonder waarom die hond so aanhoudend blaf. Sy het gaan kyk in die omgewing in watter rigting hy blaf en ‘n slak opgemerk, waarop sy aangeneem het dit is waarvoor hy blaf.

Wielietjies het egter al hoe erger geblaf en sy het nader gestap. “Toe ek óm die palmboom kom, het die rinkhals opgekom en sy kop bak gemaak.”

Me. Reyneke het teruggespring agter die boom in, vir Duan gegryp en by die huis ingehardloop. “Klein Duan was net oomblikke vantevore daar waar die slang was. Dinge kon soveel erger gewees het!”

Bekende slangvanger, Victor Boshoff, het die sowat 60cm rinkhals gaan haal en sal hom in ‘n veilige area in die omgewing vry laat.

Me. Reyneke sê dat dit die tweede keer is dat daar ‘n rinkhals in hul erf gekry word die afgelope paar maande.

• Mnr. Boshoff het gemeld dat rinkhalse nie sommer mense sal aanval nie, hulle sal eerder wegseil. As hulle egter in ‘n hoek gedryf word, sal hulle regop staan en spoeg, of maak asof hulle dood is. In laasgenoemde geval is die slang baie gevaarlik, want dan is mense geneig om die slang op te tel en dan sal hy pik.

Rinkhalse se gif is neuro- (tas senuweestelsel aan) en sitotoksies (tas weefsel aan).

As ‘n persoon in die oë gespoeg word deur ‘n rinkhals, moet sy oë dadelik met sowat sewe liter soutwater uitgespoel word. Mnr. Boshoff sê dat mense nie melk moet gebruik om hul oë uit te spoel nie! Melk bevat proteïene en die slanggif het ook proteïene in.

Hy raai mense aan om dadelik hospitaal toe te gaan, as hulle deur die rinkhals gepik word.

• Die gemeenskap moet glad nie die rinkhals met die Mosambiekse spoegkobra verwar nie. Die rinkhals is duidelik swart en wit (strepe), maar die Mosambiekse spoegkobra is bruin en swart (soortgelyke strepe).

Die Mosambiekse spoegkobra is uiters giftig en aggressief en sal dadelik aanval deur aanhoudend te spoeg en te pik.

• As mense deur ‘n slang gepik word en hulle is onseker watter tipe slang dit is, kan hulle mnr. Boshoff kontak of ‘n foto van die slangbytwond neem en vir hom stuur. Hy kan identifiseer watter tipe slang dit is na aanleiding van die byt. Mense moet onder geen omstandighede die slang saamvat hospitaal toe nie. As die slang dood is, kan ‘n foto geneem word, of gee ‘n beskrywing van die slang vir die dokter.

• Mnr. Boshoff het reeds 25 jaar ondervinding met die hantering van slange en mediese behandeling van slangbyt.

• Persone wat slange in hul erwe kry en dit wil verwyder, kan mnr. Boshoff bel by 083 628 4902.

• Mnr. Fanie Strydom het onlangs vanaf Phalaborwa na Middelburg verhuis. Hy behoort aan die SA Slangbytinstituut en sê mense kan hom ook kontak om slange te kom verwyder as hulle nie die Boshoffs in die hande kry nie. Sy nommer is 079 606 8374.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button