Ma sit rowers ore aan

'n Ma wat skaars een en 'n half meter lank is en die skaal nie eers tot op 50 kilogram trek nie, het so verbete teen twee aanvallers geveg, dat hulle op die vlug geslaan het!

So erg het sy een boosdoener getakel dat die polisie, hospitale en klinieke later gebel is om uit te vind of iemand nie vir diep snywonde aan sy gesig behandel is nie.

“As ek nie my kind hoor huil het nie, was daar nou ‘n moorddossier by die polisie oop. Ek weet nie waar ek die krag vandaan gekry het nie, maar ek het met alles wat ek in my het baklei.”

Narisha Pienaar (33) is Vrydagaand deur twee rowers in haar woonstel in Jan Cilliersstraat aangeval, terwyl sy en haar tweejarige seuntjie alleen by die huis was.

Sy was besig om gordyne op te hang. Kort-kort het sy ‘n geritstel buite gehoor maar kon niks verdag sien nie.

Nadat sy haar seuntjie, Leonardo, aan die slaap gemaak en in sy bed gesit het, het sy uit die huis gestap, om ‘n tuinstoel waarop sy gestaan het om die gordynreling by te kom, buite te gaan sit.

Sy het omgedraai toe sy haar veiligheidshek hoor kraak en het gesien hoe ‘n donker figuur haar huis binne glip.

“Ek het besef my kind is in die huis!”

‘n Rower, wat haar ingewag het, het haar vol in die gesig met die vuis geslaan toe sy by die deur instorm. Nog een het in die gang af verdwyn. Sy het haar kind in die kamer hoor skree. Haar aanvaller het haar verhoed om na hom te hardloop.

“Ek het vir lewe en dood baklei. Ek het enige iets wat ek in die hande kon kry, gebruik om hom te gooi of na hom te slaan.”

Die aanvaller moes vir ‘n suikerpot en ketel koes en sy het ‘n baie swaar tafel op hom omgekeer. ‘n Glaskandelaar van sowat 1,5kg het haar oog gevang en sy het dit gegryp en haar aanvaller vol in die gesig geslaan.

“Ek het hom baie seer gemaak. Ek kon die vet onder sy vel sien uitpeul by die sny.

“Die heeltyd het ek gedink ‘Die Here beskerm my. Julle gaan my nie rape nie. Julle gaan nie my lewe neem nie, ek het twee kinders vir wie ek moet lewe.'”

Haar aanvallers het gevlug en sy het na haar kind gehardloop. Sy teddiebeer waarmee hy gewoonlik slaap het in die gang gelê.

Mev. Pienaar het om hulp geroep, maar niemand het gereageer nie. Sy het toe met haar kind in haar arms in die straat af gehardloop, na haar ouers wat ‘n entjie daarvandaan bly.

“Dit was so gesukkel om die polisie uit te kry. Eers moes ons die straatnaam spel. Toe gooi die vrou sommer die foon in ons oor neer. Iemand het die radiogroep geroep en hulle was vinnig daar.”

Die rowers het weggekom met juwele en horlosies. Buiten vir die blou oog, sny en krapmerke, sit mev. Pienaar met emosionele letsels wat heelwat langer gaan vat om gesond te word.

“Ek weier nou om te stort as my man nie daar is nie, want dan kan ek nie hoor wat buite aangaan nie. Ek is net dankbaar dat my oudste seun nie by die huis was toe dit gebeur het nie, anders sou hy ook nou met hierdie goed moes deal.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button