Getakel deur ‘n ratel

Die gesegde sê: "So taai soos 'n ratel" en dit het mnr. Nico Doman eersterangs ervaar toe hy getakel is deur 'n ratel!

Hy het op 1 Julie omstreeks 22:00 vanaf Marble Hall na Groblersdal gery, toe daar skielik ‘n ratel oor die pad hardloop en onder die bande van sy bakkie beland.

“Ek het hom per ongeluk net voor Schoeman Boerdery getref. Die ratel het op die skouer van die pad gelê en ek het uit my bakkie geklim om te kyk of dié rare dier okay is. Net toe ek my voet lig om hom liggies te stamp om te kyk of hy nog lewe, toe byt hy my skoen vas!” vertel mnr. Doman. Die volgende ooomblik het ‘n geweldige stoeiery tussen man en dier ontstaan.

Mnr. Doman het vir ‘n geruime tyd gestoei om uit die ratel se kloue en tande te ontsnap. Hy het later met ‘n gesukkel gedurende die geveg sy broek se gordel vanaf sy middel verwyder en dit as ‘n wapen teen die ratel gebruik deur dit om die ratel se nek te span en hom te versmoor.

“Dis al manier hoe ek kon sien om van die ratel weg te breek,” sê mnr. Doman.

Volgens me. Mercia Gouws van Life 24 Ambulansdienste het mnr. Doman haar gekontak, waarop sy na sy beserings en wonde omgesien het. “Hy het van kop tot tone gebloei!”

Mnr. Doman sê hy het wel skrape, bytmerke en snye oor sy ribbes, arms en bene, maar geen ernstige beserings nie.

• Mnr. Doman het die ratel laat opstop as ‘n aandenking van sy oorwinning teen hierdie taai dier.

• Ratels is bekend vir hul krag, wreedheid, taaiheid en om vreesloos enige ander dier aan te val wanneer ontsnapping onmoontlik is, soms van veel groter roofdiere soos leeus.

Bysteke, ystervarkpenne en dierbyte dring selde deur hul vel. Hulle is feitlik onvermoeid in ‘n geveg en oorwin soms veel groter diere in fisiese konfrontasies.

Volgens berigte gaan ratels vir die skrotum met die aanval van groot diere en selfs mense.

Back to top button