Nelspruit Gemeenskapsforum sorg vir ‘n groentetuin
'n Grasgroen tamatie lyk dalk nie na iets positiefs nie, maar dit is deel van 'n groentetuin suksesverhaal.
NELSPRUIT – ‘n Grasgroen tamatie mag nou dalk nie na iets positiefs lyk nie, maar vir die Nelspruit Gemeenskapsforum (NGF) se groentetuinprojek is dit deel van ‘n groot suksesverhaal.
Die besturende direkteur van Mpumalanga Leadership Foundation, past. TJ Maré en sy span het aan die begin van die jaar bande op die terrein op die hoek van Potgieter- en Nelstraat begin uitpak en plantjies geplant.
Dr. Attie van Wyk van Lowveld Hospital het dié oop stuk grond aan die NGF beskikbaar gestel, omdat die hospitaal nie van plan is om binnekort daar te ontwikkel nie. Dit is nie ‘n tradisionele tuin met beddings nie, maar groente soos soetrissies, spinasie, groenbone, wortels en kool gaan geplant word.
Maré het gedurende die week die Fairyland-dagsentrum genader om deel van die projek te word. “Op die oomblik is daar net ‘n pampoentuintjie, maar ons beoog om ander saailinge ook te plant. Die kleuters se speelarea gaan glad nie kleiner gemaak word nie. Ons doel is om die gemeenskap betrokke te kry. ‘n Anonieme borg het reeds kunsmis geskenk,” het hy gesê.
Die dagsorgsentrum is in Nelsville geleë en die hoof, me. Janet Vincent, is baie opgewonde oor NGF se betrokkenheid. “Oulike prentjies is teen die muur geverf en al die kleurvolle groente gaan baie mooi daarby pas. Dit is ‘n briljante idee om die gemeenskap te betrek, veral vir die behoeftiges,” het Vincent gesê.
‘n Nare droom kan soms die suksesverhaal bederf – die bestuurders van die organisasie het die afgelope paar maande slapelose nagte oor hulle geldsake gehad. Dit is moeilik om ander wat in nood is, by te staan en aan hulle kospakkies te voorsien. “Baie dankie aan dié wat reeds ‘n bydrae gelewer het. Ons voel darem al verligting, maar dit is nog nie naastenby genoeg nie,” het Maré bygevoeg.
Hulle het die volgende items dringend nodig
• bruinsuiker
• mieliemeel
• sout
• rys
• tandepasta
• soja-maalvleis
• teesakkies
• grondboontjiebotter
• sonneblomolie
• seep.
Enige kontantskenkings is ook welkom – ABSA, Nelspruit (33-42-52), rekeningnommer 406 129 0450.



