Man doodgery in Mpumalanga: Vrou bly in aanhouding
'n Stryery het glo ontstaan die dag toe Leon Jansen van Rensburg (50) vermoedelik deur 'n 35-jarige vrou doodgery is.
Samantha Gauche (35), ‘n inwoner van Modderoos Boorde in die Delmas-omgewing van Mpumalanga, wat van moord aangekla word nadat sy na bewering drie keer oor Leon Jansen van Rensburg (50) gery het, het gister weer vlugtig in die Delmas-streekhof verskyn.
Gauche het verlede Maandag haar eerste verskyning in dié hof gemaak, en tydens gister se verskyning kon die ondersoekbeampte nie daarin slaag om haar gegewe adres te bevestig nie.
Die saak is tot Donderdag uitgestel wanneer ’n formele borgaansoek voor die hof gebring sal word.
Gauche bly intussen in polisie-aanhouding.
Jansen van Rensburg se dogter Shenique, vriende en Jansen van Rensburg se ouer broer en skoonsuster het die hofverrigtinge bygewoon.
Gauche het na bewering op 30 September drie keer oor Jansen van Rensburg gery waarna sy in haar wit Chevrolet Aveo van die toneel (Jansen van Rensburg se kleinhoewe op Modderoos Boorde) gevlug het. Sy het na bewering teen ’n boomstomp gebots, uit haar motor gespring en verder te voet gevlug.
’n Tuinier wat die gebeure gesien gebeur het, het alarm gemaak en Gauche is deur nabye werkers in haar voetspore gestuit. Sy is kort daarna deur die Sundra-polisie in hegtenis geneem.
Volgens ’n betroubare bron het Gauche en die Jansen van Rensburg-egpaar gekuier, maar ‘n stryery het ontstaan.
Jansen van Rensburg wou keer dat Gauche ry waarna sy toe glo oor hom gery het.
Jansen van Rensburg is deur paramediese personeel op die toneel dood verklaar.
Read original story on www.citizen.co.za