Man vas 5 jaar ná skietvoorval tydens partytjie in Middelburg

Gerhard Coetzer (29) is in 2018 raakgeskiet en al het partytjiegangers gesien wie die skoot afgevuur het, was niemand destyds aangekla nie.

’n Verdagte is Woensdag, meer as vyf jaar nadat Gerhard Coetzer (29) tussen partytjiegangers in Middelburg doodgeskiet is, in Vanderbijlpark gearresteer.

“Ek kon dit nie glo nie en het gisteraand [Woensdag] van Pretoria af Middelburg toe gery om te kom seker maak dit is nie net weer ’n storie nie,” het Pieta, Gerhard se broer, gesê.

Hulle is laat Woensdag in kennis gestel dat ’n verdagte gearresteer is en gister in die hof in Middelburg sou verskyn.

Phillip de Klerk het in die plaaslike landdroshof verskyn en hy bly tans in aanhouding. ’n Moordklagte word ondersoek, en die saak is uitgestel na volgende week vir ‘n formele borgaansoek.

Die noodlottige dag

Gerhard is op 27 April 2018 by ’n huis in Walter Sisulustraat doodgeskiet. Sy seun, Ronaldo, was drie jaar oud op daai stadium en het alles sien gebeur. ’n Forensiese maatskaplike werker het nege maande na die voorval met Ronaldo gewerk.

Die persoon wat Gerhard daardie dag doodgeskiet het is nooit in die tyd na die gebeure aangekla nie, al het almal wat by die partytjie was, geweet wie hom geskiet het. Daar was ook kinders in die groep en een van die mans het ’n floute gehad na die gebeure.

Gerhard se vrou, Bianca, het kort na die gebeure na vore gekom en al die jare volgehou dat ’n persoon by die partytjie met ’n wapen gespeel en twee skote afgegaan het.

Sy het gesê dat een skoot deur ’n buitekamervenster is en die ander een haar man getref het. Gerhard het net ’n paar treë geloop, inmekaar gesak en op die toneel gesterf.

Die polisie het later ‘n koeëlpunt in die buitekamer gevind.

Soeke na geregtigheid

  • Die dossier is op 23 Junie by die Nasionale Vervolgingsgesag ingehandig, maar is weer teruggestuur vir die polisie, omdat daar uitstaande inligting op die dossier was.
  • Afriforum se privaatvervolgingseenheid is sedert verlede jaar betrokke om die saak te laat hersien.
  • Bianca sê sy is beïndruk met die werk wat die nuwe ondersoekbeampte gedoen het. “In die laaste drie weke het hy meer gedoen aan die saak as wat in die laaste vyf jaar gedoen is!”

Sy het emosioneel gesê dat geregtigheid nie haar man gaan terugbring nie, maar: “Ek moet enduit gaan met die saak ter wille van my en Gerhard se kinders. Ronaldo is nou agt en Biané is ses jaar oud. Ek is nie bang om te getuig nie, want ek wéét wat is die waarheid.”

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ruan de Ridder

A digital support specialist at Caxton Local Media, known for his contributions to the digital landscape. He has covered major stories, including the Moti kidnappings, and edits and curates news of national importance from over 50 Caxton Local News sites.
Back to top button