Groblersdal-saak: Staat genoop om klagte teen pa en seun te verander
'n Klag van poging tot moord teen Piet Groenewald (63) en sy seun Stephan Greeff (27) is weer terugverander na aanranding.
Die borgaansoek van Piet Groenewald (63) en sy seun Stephan Greeff (27) is uitgestel tot 31 Januarie nadat die Groblersdal-landdroshof in Limpopo gister eers na middagete tot sitting geroep is.
Die aansoek sal eerskomende Woensdag voortgesit word omdat die hof teen 16:00 verdaag het, en tyd nie aan die kant van die verdediging was nie.
Daar is ook aangekondig dat die poging tot moord klag teen die pa en seun wie daarvan aangekla word dat hulle ‘n werknemer aangerand, en toe ‘n veiligheidshond op hom losgelaat het, nou weer terugverander is na aanranding met die opset om te beseer.
Borg teengestaan
Dit het ook duidelik in die hof na vore gekom dat die rede hoekom die staat borg teenstaan, die veiligheid van die beskuldigdes is.
Die staat beweer die gemeenskap het reeds by beide die polisiestasie en by Groenewald se plaas betoog na die voorval.
Daar is ook glo reeds verskeie dreigboodskappe na Groenewald se vrou, Elmarie, se foon gestuur, maar sy hou vol dat indien haar man en seun op borg vrygelaat word, sy nie sal vrees vir haar veiligheid of lewe nie.
Konstabel Gregory Maleasenya, wat tans minder as twee jaar in diens van die polisie is, het toegegee dat Groenewald en Greeff bereid was om hulle paspoorte aan hom te oorhandig.
Hy het die hof versoek om pa en seun in aanhouding te hou tot daar ‘kalmte in die gemeenskap is’. Hy het wel bevestig dat hy hulle nie wil staf met aanhouding nie, maar dat dit vir hulle eie veiligheid sou wees.
Daar is ook aangevoer dat die beskuldigdes ooggetuies ken, en dié se werk in gedrang kan wees as hulle vrygelaat sou word, omdat die getuies vir hulle werk en ook behuising op die plaas geniet.
Verskeie dreigemente is glo aan die ondersoekbeampte self gemaak, hoewel hy beweer arrestasies weens die doodsdreigemente nie gemaak kon word nie omdat die polisie kwansuis te min mannekrag het.
Maleasenya het getuig dat vier mense wel tot dusver in hegtenis geneem is vir intimidasie. Hy het egter nie meer hieroor uitgebrei nie.
Die insident en bewerings
Die slagoffer, Veneruru Kavari (30), beweer hy is met die handvatsel van ‘n byl geslaan, waarna ‘n hond hom gebyt het.
Hy beweer voorts dat hy met ‘n onbekende stof ingespuit is gedurende die voorval verlede Donderdag op Groenewald se plaas, vanwaar die Wildlife Investigation and Protections Services (WIPS), ‘n privaat sekuriteitsmaatskappy, bedryf word.
Kavari is glo vyf dae voor dié voorval aangestel as veiligheidswag. Hy beweer dat hy voor die aanranding beskuldig is van dronkenskap aan diens.
Hy is Donderdag deur sy opsigter en kollega na die WIPS kantore op Groenewald se plaas vergesel waar hy weer beskuldig was dat hy aan diens drink.
Hy het dit ontken en beweer dat Groenewald hom toe aangeval en met die bylsteel aangerand het. Kavari het gevlug en dis toe glo, na bewering, dat Groenewald vir Greeff beveel het om die hond op hom te sit.
Kavari het oppervlakkige bytmerke op beide bene opgedoen. Sy broer en die polisie is toe geskakel.
Geen van die beskuldigdes het hangende sake teen hulle nie.
Faith Raselomane tree namens die staat op terwyl advokaat CJ van Wyk deur Groenewald en Greeff aangestel is.
Beide mans is vandag reeds ‘n week agter tralies en ontken die klagtes teen hulle.
Die landdros het voor die hof gister verdaag het gelas dat Groenewald gestuur word vir ‘n mediese ondersoek omdat hy moontlik ‘n ligte aanval Vrydag, ná sy arrestasie, in aanhouding gehad het.
Read original story on www.citizen.co.za