Raaisel oor Meyerton-gesin en honde se dood
Die polisie is na 'n huis in Suikerbosstraat ontbied nadat bure gekla het oor ‘n onaangename reuk en vlieë.
Die polisie in Gauteng is besig met ‘n geregtelike doodsondersoek nadat drie ontbinde lyke verlede Woensdagmiddag by ‘n huis in Golfpark, Meyerton, aangetref is.
Vaalweekblad berig die lyke van Hans Roos, sy vrou, Susan, hul seun, Hansie, en die gesin se diere is by hulle woning in Suikerbosstraat aangetref nadat bure gekla het oor ‘n onaangename reuk en vlieë.
Volgens Konstabel Tlaleng Moloi, ‘n woordvoerder vir die polisie in Meyerton, het die polisie op die lyke afgekom toe hulle omstreeks 15:15 op ‘n klagte van ‘n lid van die publiek gereageer het.
“Die polisie het na die genoemde adres gegaan en met hul aankoms het hulle gevind dat die die huis en sy vensters deur vlieë omring was. Nadat polisielede die huis betree het, het hulle drie ontbinde liggame (twee mans en een vrou), sowel as twee dooie honde aangetref. Die persone is op die toneel deur paramedici dood verklaar,” sê Moloi.
Volgens Moloi is die oorsaak van die sterftes in hierdie stadium onbekend, en die polisie doen ‘n beroep op mense met inligting om na vore te kom.
Persone met inligting kan die ondersoekbeampte, Adjudant-Offisier Kekana, by 073 780 9154 skakel, of kontak maak met die Meyerton-polisiestasie by 016 360 4700, of die polisie se Stop Misdaad-nommer by 08600 10111.
Die MySAPS-toepassing kan ook gebruik word om inligting vertroulik deur te gee.
Read original story on www.citizen.co.za