Local newsNewsNews

Raaisel oor Golfpark-gesin, honde se dood

Die ma, pa en seun (45), sowel as die gesin se twee honde, is dood in hul woning in Golfpark aangetref.

MEYERTON. – Die polisie is besig met ‘n geregtelike doodsondersoek nadat drie ontbinde lyke Woensdagmiddag 17 April by ‘n huis in Golfpark, Meyerton aangetref is.

Vaalweekblad verstaan die lyke van Hans Roos, sy vrou, Susan Roos, hul seun Hansie Roos, en die gesin se diere is by hul woning in Suikerbosstraat aangetref nadat bure gekla het oor ‘n onaangename reuk en vlieë.

Volgens konst. Tlaleng Moloi, ‘n woorvoerder vir die polisie in Meyerton, het die polisie op die lyke afgekom toe hulle omstreeks 15:15 op ‘n klagte van ‘n lid van die publiek gereageer het.

“Die polisie het na die genoemde adres gegaan en met hul aankoms het hulle gevind dat die die huis en sy vensters deur vlieë omring was. Nadat polisielede die huis betree het, het hulle drie ontbinde liggame (twee mans en een vrou), sowel as twee dooie honde aangetref. Die persone is op die toneel deur paramedici dood verklaar,” sê Moloi.

Volgens Moloi is die oorsaak van die sterftes in hierdie stadium onbekend.

Die polisie het ‘n beroep op mense met inligting gedoen om na vore te kom.

Die ondersoekbeampte, A.O. Kekana kan by 073 780 9154 geskakel word.

Persone met inligting kan ook die Meyeron-polisiestasie by 016 360 4700, of die polisie se CrimeStop-nommer by 08600 10111 skakel.

Die MySAPS-toepassing kan ook gebruik word om inligting vertroulik deur te gee.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button