Kyk: 5 in hof oor R2 miljard se dwelmlaboratorium naby Groblersdal
Twee van die vier beskuldigdes in die reuse dwelmklopjag het vandag hulle borgtogaansoek in die hof voortgesit.
Die vyf mans wat aangekla word nadat die Limpopo Valke toegeslaan en ‘n kristal-metamfetamien dwelmlaboratorium, ter waarde van R2 miljard, op ‘n plaas in Groblersdal oopgevlek het, het vandag weer in die hof verskyn.
Die plaaseienaar van Thjaba E Monate, Roelof Frederik Botha (57), het saam met vier ander beskuldigdes: Simphiwe Melvin Khumalo (34), Alejandro Gutierrez Lopez (43), Jorge Humberzo Gonzalez (53) en Ruben Vidal Rodriguez (44) verskyn.
Hulle is na die dwelmlaboratorium op 19 Julie op ’n plaas buite Groblersdal deur die Valke oopgevlek is. Daar is beslag gelê op 408.95kg asetoon en kristal-metamfetamien.
Borgtogaansoek
Daar is Donderdag begin met Botha en Khumalo se eedsverklarings vir borgtogaansoek, maar die tyd het uitgehardloop en die saak is uitgestel na vandag vir voortsetting.
Botha het in sy eedsverklaring gesê dat hy nie van die dwelmlaboratorium geweet het nie en Khumalo het aangevoer dat hy net ’n koerier was en nie geweet het dat dit wat hy vervoer het, chemikalieë is vir die vervaardiging van dwelms nie.
Volgens Khumalo het hy gedink dit is skoonmaakmiddels vir vee.
Lopez, Gonzalez en Rodriguez (Meksikaanse burgers), het voorlopig hulle aansoeke om borg laat vaar, terwyl Botha en Khumalo se borgaansoeke vanmiddag voorgesit was.
Die mans staan tereg op klagtes van die vervaardig van onwettige dwelmmiddels, handeldryf in die middels, of alternatiewelik die besit daarvan, en geldwassery.
Die staat voer aan dat hulle die beweerde misdade met ‘n gemeenskaplike doel gepleeg het.
Omdat die dwelms ‘n geskatte waarde van meer as R1 miljard het, maak die klagtes deel uit van ‘n skedule vyf oortreding, en staan die staat dus hulle borgaansoeke teen.
@middelburgobserverThe four suspects arrested for operating a R2 billion illicit drug lab in Groblersdal, appear in court. They were said to be operating a lab to make illicit drugs including acetone and crystal meth. Two of the suspects are Mexican nationals.♬ original sound – MiddelburgObserver
Saak uitgestel
Middelburg Observer berig dat Landdros Bogi Mashele vandag die ondersoekbeampte in die saak weer na die getuiebank geroep het vir ‘meer duidelikheid’ oor sekere aspekte.
Hy het die ondersoekbeampte, sersant Ntutu Monene, gevra of foto’s op die toneel geneem is waarop die SAPD-lid daarop gewys het dat daar wel foto’s geneem is, maar dat dit steeds by die forensiese span is, en gewoonlik eers na ’n maand vrygestel word.
Monene het aangedui dat hy dit moontlik kan kry, as die hof daarop sou aandring.
Mashele het die saak uitgestel na volgende Dinsdag, vir die verkryging van die foto’s van die toneel, aangesien hy ‘dit as ’n noodsaaklikheid benodig vir die hof om ’n ingeligte besluit te neem’.
Read original story on www.citizen.co.za