Moordverdagte van George word op borgtog vrygelaat

Die man wat aangekla is op die moord van Linden Sysaar (27) is ondanks die gemeenskap se misnoeë, borgtog toegestaan.

Beskuldigde Chad Windvogel (24), wat teregstaan op die moord van ‘n platejoggie van Rosemoor, Linden Sysaar (27), is Dinsdag op borgtog van R5 000 met streng voorwaardes vrygelaat.

Ontstoke familie- en gemeenskaps-lede van Rosemoor het reeds vroeg Dinsdagoggend voor die George-landdroshof saamgedrom om hulle misnoeë teen Windvogel se borgtogaansoek uit te spreek.

Ten tyde van sy borgtogaansoek was die hof stampvol.

Sysaar is op 11 Augustus in O’Connellstraat in George gesteek.

Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder Sersant Chris Spies, was polisiebeamptes besig om in dié straat te patrolleer toe hulle deur ‘n inwoner voorgekeer is wat hulle van die voorval vertel het.

Met hul aankoms op die toneel het hulle ‘n groep mense gevind wat besig was om die slagoffer te dra.

Sysaar is gehospitaliseer, maar het die volgende oggend aan sy beserings beswyk. Windvogel is op 13 Augustus in hegtenis geneem en sal weer op 26 September in die hof verskyn.

Familielede en ondersteuners van Sysaar was hoogs ontsteld ná Windvogel se vrylating op borgtog, en dit blyk dat die publiek nie altyd die doel van borgtog verstaan nie.

Wat is ‘n borgtogaansoek?

Borgtog is nie ‘n skuldigbevinding of ‘n vonnis nie. Die betaalbare bedrag vir borgtog dui ook nie op die skuld of onskuld van ‘n beskuldigde nie.

Volgens ‘n plaaslike advokaat, Louise Luterek, is dit belangrik om te onthou dat ‘n beskuldigde nie skuldig is totdat die hof hom of haar skuldig bevind het nie.

Die basiese beginsel onderliggend aan die wet op borgtog is dat ‘n beskuldigde geregtig is op borgtog waar die belange van geregtigheid dit toelaat.

Wetlik kan daar nie aanvaar word dat iemand skuldig is bloot omdat hulle in hegtenis geneem is nie. Die beskuldigde kan ‘n borgtogaansoek voor die hof bring om vrygelaat te word op sekere gronde, bepalings en voorwaardes, soos die hof mag oplê.

Ingevolge ons land se grondwet het alle mense die reg om vry te wees en die reg op ‘n regverdige verhoor.

Read original story on www.georgeherald.com

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ruan de Ridder

A digital support specialist at Caxton Local Media, known for his contributions to the digital landscape. He has covered major stories, including the Moti kidnappings, and edits and curates news of national importance from over 50 Caxton Local News sites.
Back to top button