68 bytwonde: Polokwane-vrou sterk aan ná honde-aanval
Melinda Labuschagné (57) word tans vir haar wonde behandel en haar man kon nog nie bevestig of sy veloorplantings moet ondergaan nie.
Twee honde van gemengde ras het onlangs ‘n 57-jarige vrou helder oordag in die straat naby haar huis in Bendor, Polokwane, aangeval en verskeur.
Volgens Sakkie Labuschagné, wie in Van Waverenstraat in dieselfde woonbuurt woon, het sy vrou, Melinda, oudergewoonte gereedgemaak om met haar honde te gaan stap, en opgemerk dat twee honde van haar bure verder in dieselfde straat, in die straat rondhardloop.
“Melinda het eers ons honde in die erf gelaat en in die straat uitgegaan om die bure se honde na hulle erf terug te lok omdat sy bang was voertuie kan hulle raakry,” vertel Labuschagné.
“Die honde het skielik gestorm en Melinda begin byt totdat sy daarin geslaag het om weer na die veiligheid van ons erf te beweeg,” vertel hy en bevestig dat sy 68 bytwonde opgedoen het en vyf dae in die intensiewesorgeenheid deurgebring het.
“Sy het wonde aan beide arms, bene, [haar] lies en lae rug opgedoen en ek het net ná die voorval by die huis stilgehou en haar na die hospitaal gehaas.”
Volgens hom het werkers van een van die ander bure die honde se eienaar geskakel en hy het gereël dat die DBV die diere van kant maak.
Labuschagné se vrou word tans vir haar wonde behandel en hy kon nog nie bevestig of sy veloorplantings moet ondergaan nie.
‘n Plaaslike veearts, wie anoniem wou bly, wou nie bevestig dat sekere honderasse ‘n geneigdheid het om mense aan te val nie.
“Enige hond kan ‘n mens aanval en ‘n mens moet altyd versigtig wees vir vreemde honde. Honde se gedrag word bepaal deur hoe hulle grootgemaak of opgelei is en ‘n reaksie kan soms aangebring word deur omstandighede soos vreemde geluide, ‘n skielike beweging of uitlokking. Sekere honde is byvoorbeeld beter geskik om vir aanval of soek-en-redding aangewend te word, terwyl gevalle al aangemeld is waar honde wat elke dag met kinders gespeel het, hul eie base of kinders aangeval het.”
Read original story on www.citizen.co.za