Kind doodgery: Wes-Kaapse munisipale werker onder korrektiewe toesig geplaas

ʼn Ma het haar ontsteltenis buite die George-landdroshof uitgespreek oor die vonnis wat die persoon wie haar kind doodgery het, gekry het.

Annari Cronjé (40), ‘n munisipale werknemer van George wat skuld beken het op strafbare manslag nadat sy in ‘n munisipale vragmotor vir Jelandré Afrika (8) in 2021 op die sypaadjie in Rosedale doodgery het, is vandag in die George-landdroshof gevonnis.

George Herald berig Cronjé is tot 36 maande korrektiewe toesig gevonnis. Sy moet ook 16 ure per maand afstaan aan gemeenskapsdiens.

Cronjé mag ook nie die distrik verlaat sonder die nodige toestemming van die owerhede nie en moet sekere programme, waaronder lewensvaardighede en trauma-inligtingsessies, voltooi. Verder mag sy geen plekke besoek wat alkohol bedien of verkoop nie. Sy is ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.

Die voorval

Klein Jelandré, haar neef, en drie vriende was op pad van die winkel af huis toe, toe sy onder die vragmotor se wiele beland het.

Sy is op die toneel dood. Jelandré was een van ‘n tweeling en die jongste van ses kinders.

Tydens vonnisoplegging het landdros Riaan Kamfer genoem dat hoewel Cronjé berou getoon het tydens die verhoor, en dat dit nie wetlik verpligtend is vir ‘n beskuldigde om self agter die getuiebank in te skuif nie, sou die hof dit goedgedink het vir haar om mondelings haar getuienis af te lê.

Cronjé se verklaring is vroeër tydens die verhoor deur haar regsverteenwoordiger, Winston Jansen, op rekord ingelees.

“Veral in hierdie geval sou dit belangrik gewees het om iets vir die gesin te sê wat baie emosioneel is. As die beskuldigde self iets gesê het, sou dit hulle ‘n mate van afsluiting gegee het.”

Ma ‘gaan dit nie hier los nie’

Jelandré se ma, Clara, het na hofverrigtinge gesê dat sy baie ongelukkig is oor die vonnis.

“My kind is dood en sy [Cronjé] loop steeds buite rond. Die ondersoek is van die begin af nie reg hanteer nie en ek voel die polisie, die departement van justisie en die munisipaliteit het my gefaal. Ek gaan dit nie hier los nie. Die saak gaan óf hooggeregshof toe, óf ek soek my kind lewend terug,” het Afrika buite die hof gesê.

“Sy het my R50 000 vir restitusie aangebied. Géén hoeveelheid geld gaan my kind terugbring nie. Al wanneer ek sal rus is wanneer sy in die tronk sit vir wat sy gedoen het. Ek is moeg daarvoor om in my eie land uitgebyt en vertrap te word. Beteken ons kinders se lewens dan niks? Die Here hoor my, ek sal die saak tot in die hoogste hof baklei.”

Camfer het genoem dat Cronjé deurentyd berou getoon het, dat sy ‘n eerste oortreder is en ook ‘n jong enkelouer van ‘n minderjarige kind.

In die maatskaplike werker se verslag is daar ook genoem dat Cronjé se bure haar as ‘n nie-gewelddadige en liefdevolle mens beskryf het.

Read original story on www.georgeherald.com

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ruan de Ridder

A digital support specialist at Caxton Local Media, known for his contributions to the digital landscape. He has covered major stories, including the Moti kidnappings, and edits and curates news of national importance from over 50 Caxton Local News sites.
Back to top button