Man sterf aan steekwond ná hy aangerande vrou in Nigel te hulp snel

Burgerlike Beskerming-lid Rudi Buys is gesteek terwyl hy ‘n jong vrou wat aangerand was, probeer help het.

‘n Lid van Burgerlike Beskerming Nigel is gister in die vroeë oggendure met ‘n mes doodgesteek nadat daar ‘n klagte op die noodgroep ontvang is oor ‘n jong vrou wat aangerand word.

Heidelberg/Nigel Heraut berig Rudi Buys, saam met ander lede van die eenheid, het Sondag ongeveer 00:30 gereageer op die oproep om hulp en was volgens die voorsitter van die eenheid, Marius Fox, binne minute op die toneel.

“Ons het ‘n man op die toneel aangetref wat baie aggressief was en besig was om [‘n] jong vrou te slaan,” het Fox vertel en bygevoeg dat nadat die man die lede van die eenheid gewaar het, het hy begin weghardloop.

Buys het die man agterna gesit terwyl die res van die lede na die vrou, wat ernstig beseer was, omgesien het.

Nooddienste en die SAPD is gekontak en volgens Fox, terwyl hulle nog besig was by die vrou, het hy gehoor hoe Buys skreeu dat hy gesteek is. Buys was in sy maag gesteek.

“Ons het besef dat sy steekwond baie ernstig was. Een van die reaksie-lede het mediese agtergrond en het met Rudi na Heidelberg-hospitaal gejaag terwyl van die ander lede by die vrou gebly het,” verduidelik Fox.

Nog lede van die reaksie-span het die man wat op voet geslaan het, agterna gesit.

“Na ‘n uur wat gevoel het soos ‘n ewigheid het ons die verdagte gevind en so ook die wapen wat vermoedelik gebruik is om Rudi mee te steek. Ons het SAPD laat weet dat ons die verdagte gekry het. Die man is inhegtenis geneem,” het Fox gesê.

Die wapen waarmee Rudi Buys vermoedelik gesteek was. Foto: Verskaf

Burgerlike Beskerming-lede het na Heidelberg-hospitaal gegaan om Buys te ondersteun. Volgens Fox het die dokters baklei vir Buys se lewe maar ongelukkig kon hulle hom nie red nie en het hy aan sy besering beswyk.

Daar is intussen verneem dat die verdagte van Lesotho afkomstig is. Die speurtak van Nigel het Sondag almal wat op die toneel was se verklarings geneem en die saak word ondersoek.

Fox het namens Burgerlike Beskerming vir die SAPD, Nigel GPF, Crimestop, die nooddienste en almal wat op toneel gehelp het, bedank.

Buys was die broodwinner in sy gesin en laat sy vrou en vier dogters agter. Die gemeenskap help met fondsinsameling vir begrafniskoste en kosvoorsiening vir die gesin.

Indien iemand wil help of ‘n bydrae wil maak, skakel Fox by 084 661 3666.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ruan de Ridder

A digital support specialist at Caxton Local Media, known for his contributions to the digital landscape. He has covered major stories, including the Moti kidnappings, and edits and curates news of national importance from over 50 Caxton Local News sites.
Back to top button