Olifant se eienaar agter tralies na werknemer se mesdood op plaas in Mpumalanga
Tswale die olifant se eienaar is in hegtenis geneem nadat ’n werknemer se lyk op die plaas Lowhills naby Hectorspruit aangetref is.
Sonell Joubert (45), eienaar van die bekende Onderberg-olifant, Tswale, wat by Lowhills Safaris naby Hectorspruit, Mpumalanga aangehou word, is Maandag omstreeks 13:00 in hegtenis geneem vir moord.
Dít volg nadat die polisie Jurgens Nel, ’n werknemer van die plaas se lyk in sy kamer gekry het. Volgens die polisie is hy verskeie keer met ’n mes gesteek en het die paramedici hom dood op die toneel verklaar.
Nel is onlangs glo deur Joubert en die voormalige eienaar van die plaas, Johan Möller, in diens geneem.
Sy moord volg twee dae nadat Joubert ’n onlangs beskermingsbevel teen hom bekom het. Die polisie het bevestig dat Joubert Saterdag, 1 Februarie, om 19:00 ’n klag teen Nel gelê het omdat dié glo die beskermingsbevel verontagsaam het.
Joubert het beweer dat Nel haar beledig en aangerand het, waarna hy ’n mes uitgeruk en haar gesteek het. Hy het haar ook na bewering probeer verwurg.
Sy het geskreeu en is deur ’n werknemer wat slegs as ‘Colani’ geïdentifiseer is, te hulp gesnel. Hulle het volgens die polisieverslag vir Nel ook begin steek.
Volgens die tweede polisieverslag, wat Maandag om 13:00 geregistreer is, is ’n polisieman deur sy kollega gevra vir bystand op Lowhills waar hy Möller aangetref het. Dié het Nel se woning vir hulle oopgesluit, waar hulle Nel op die vloer aangetref het, met steekwonde. Hy is op die toneel dood verklaar.

Joubert het in die hof verskyn en haar borgaansoek is tot volgende Maandag uitgestel.
Bewerings dat die geskorste Onderberg-prokureur, Zietta Janse van Rensburg, Joubert en Colani bygestaan het, is deur Janse van Rensburg ontken. Sy het aangedui dat Ernest Mahlahala asook adv. Hennie Janse van Rensburg Joubert eerder sou verteenwoordig.
Janse van Rensburg het Laevelder gewaarsku dat enige beriggewing voortydig is, en ook gedreig met ’n aansoek om uit te vind wie die storie aan Laevelder verskaf het.
Sy het wel aan Laevelder transkripsies van die polisieondervragings gestuur, waar sy met tye teenwoordig was. Hierin kan gesien word dat die polisie haar vra om ook die ondervraging te verlaat.
Janse van Rensburg het foonrekords aan Laevelder verskaf wat sy beweer toon dat Joubert en Möller sedert 31 Januarie 13 oproepe na die polisiestasie gemaak het.
Hierdie is ’n ontwikkelende storie en verdere beriggewing sal volg.
*Hierdie artikel is aangepas om die korrekte datum wat Joubert die klag verontagsaming van ‘n beskermingsbevel gelê het, te weerspieël. Daar is aanvanklik geskryf dat dit op 2 Februarie was terwyl dit eintlik op 1 Februarie gebeur het.
Read original story on www.citizen.co.za