‘Ek is nie dood nie!’ Laeveld prokureur se ma moeg vir dogter se ‘liegstories’
Herhaalde leuens in hofstukke is aan die lig gebring nadat Zietta Janse van Rensburg se 'dooie' ma openhartig praat.
Zietta Janse van Rensburg se ma leef.
In hofstuk na hofstuk en korrespondensie, herhaal Janse van Rensburg die leuen dat haar ma dood is, en Isabel Barnard is moeg daarvoor, berig Laevelder.
In April vanjaar het Janse van Rensburg Laevelder ingesluit in kommunikasie aan die staatsaanklaer waarin sy versoek dat sy geleentheid gegun word om ’n hofdatum uit te stel, omdat sy graag Port Elizabeth toe wil reis:
“My laaste besoek aan Port Elizabeth was vir my ma se afsterwe in Julie 2021 en my pa se hartomleidingoperasie in Februarie 2024.”
Maar, Laevelder het reeds in Oktober 2024 vasgestel dat haar ma nie dood is nie en het toe ’n onderhoud met Barnard gevoer.
LEES OOK: Zietta Janse van Rensburg fraud trial delayed yet again
Toe Janse van Rensburg vir kommentaar genader is, het sy heftig gereageer en die publikasie met regsaksie gedreig. Sy het geëis om te weet met wie die publikasie gesels en ’n lys van mense voorgelê.
Verdere navrae in dié verband het daartoe gelei dat die storie vir ’n wyle op ys geplaas is. Janse van Rensburg was egter bewus dat haar leuen aan Laevelder ontbloot is.
‘Nege lewens soos ‘n kat’
Barnard het dié week gesê sy hoor ook maar gereeld dat sy ‘weer’ dood is en het opgemerk dat sy baie meer as die nege lewens van ’n kat het.

“Ek was al twee keer amper regtig dood,” vertel Barnard wat in Port Elizabeth woon, “maar ek het volkome herstel en makeer niks nie. Dis nie lekker om te lees jou kind vertel vir almal jy is dood nie. Ek het nog nooit my kleinkinders ontmoet nie en ek en Zietta het die afgelope 20 jaar geen kommunikasie met mekaar gehad nie.”
Barnard sê toe Zietta vier, en haar suster twee jaar oud was, is hul lewens omver gegooi toe hulle almal in ’n ernstige motorongeluk betrokke was en sy is baie ernstig beseer en was regtig byna dood.
Sy het meer as vier maande in die hospitaal deurgebring waarvan twee maande in die intensiewesorgeenheid was.
“Ek het baie seergekry en dit het lank geneem om weer normaal te funksioneer. Toe die dogters ses en agt jaar oud was, is ek en my man geskei en hulle is onder my toesig geplaas.”
Barnard sê sy het hard gewerk om geld bymekaar te maak om vir beide se universiteitstudies te betaal.
“Ek het egter nie vir Zietta se honneurskwalifikasie betaal nie.”
Dit was haar filosofie dat sy eerder vir hul studies sou betaal as vir troues en ander uitgawes: “Niemand kan jou kwalifikasie wegneem nie, maar ’n huwelik kan faal.”
Daar het baie die afgelope paar jaar gebeur wat sy nie noodwendig in die publieke domein wil plaas nie, maar noem dat sy drie jaar gelede vir die eerste keer gehoor het dat Janse van Rensburg vertel dat sy glo dood is.
“Ek het al aan Zietta e-posse gestuur, maar dis nie goed ontvang nie. Ons egskeiding het ’n groot impak op my kinders gehad wat vandag nog seer los. My dogters is nie deel van my lewe nie.”
Verlede jaar het Barnard ’n nood galsteen- en leweroperasie gehad en was byna dood weens komplikasies, maar sy sê: “Ek is bly ek het oorleef en beur voort.”
‘Moeg vir die leuns’
Zietta se vervreemde suster het net so moeg vir die leuen geword en het haar frustrasie onlangs in ’n e-pos aan mnr. Tobie Steyn, die staatsaanklaer wat die bedrogsaak teen Zietta hanteer, bekend gemaak.
Laevelder is in die e-pos ingesluit en daarin verklaar die suster, wat anoniem wil bly, dat haar ma steeds leef.
Die waarheid moet nou uit
Sy is ook twee dekades van Janse van Rensburg en haar ma vervreem, maar glo die waarheid moet nou uit.
In die e-pos sê sy dat sy moeg is om heeltyd in die media en in hofdokumente te lees dat Barnard glo in Julie 2021 dood is.
Sy lig uit dat Janse van Rensburg in een van haar eedsverklarings na haar ma as ’n ‘geliefde’ verwys, maar dat alles ’n leuen is omdat sy geen kontak met hul ma het nie.
Sy sê verder dat Janse van Rensburg baie bewus is dat hul ma leef, omdat sy dit in 2023 persoonlik aan haar gekommunikeer het. Sy het glo ook vir Janse van Rensburg gesê dat sy in die regsprofessie is en dat feite korrek in eedsverklarings gegee word.
Janse van Rensburg het in Julie 2023 vir die Malalane-gemeenskap gelieg toe sy ’n WhatsApp-boodskap gestuur het om hulle vir die ondersteuning met haar ma se afsterwe bedank:
“Die dorp se ondersteuning is oorweldigend en word opreg waardeer. My ma was in ’n slegte motorongeluk toe ek vier was en het slegs 60% longkapasiteit en ’n roker se longe sonder dat sy ooit gerook het.
“Dit het vining geëskaleer. Sy het ’n lewendige testament gehad en haar prognose was baie sleg. Daar was ’n 28-jarige ma van twee jong kinders wat dit nodig gehad het. Die besluit is geneem om haar af te haal om die jong mamma ’n kans te gee om haar kinders groot te maak.”

Janse van Rensburg het haar verlede week weer tot sosiale media op die Uvuka Faceblook-blad gewend, waar sy voortaan haar mening oor etiek, reg en geregtigheid gaan lug.
LEES OOK: ‘Skeletons Unearthed’: Zietta Janse van Rensburg targets CPA administrator in latest podcast episode
Sy verklaar op die blad dat sy ’n jaar gelede episode ses van haar podsending, Skeletons Unearthed, vrygestel het waarin sy die regsbank by die Mpumalanga Hooggeregshof aangevat het.
Janse van Rensburg noem dat een van die regters wat sy toe uitgewys het, van die radar verdwyn het en die ander regter, wat glo verskeie ernstige klagtes teen hom het, tans net ’n bystandsregter is.
Lees ook: Another urgent application by suspended Malalane attorney dismissed
Sy prys die aanstelling van die nuwe regterpresident en die sisteme wat in plek geplaas is.

Hierna het Janse van Rensburg die Uvuka-blad gebruik om ‘verslag’ oor die borgaansoek van Zakhele Dube, te doen wat aangekla word dat hy onder die invloed die dood van drie geliefde veiligheidsvrywilligers van Malalane veroorsaak het: Donovan Prince en Zelma D’Hollander, wat op die toneel dood verklaar is, en Letta Taylor, wat gisteroggend, 11 September, in die hospitaal aan haar beserings oorlede is.
Laevelder het deurgeloop omdat hulle nie die verrigtinge bygewoon het nie.*
Janse van Rensburg het vroeër vanjaar ook ’n sosialemediaveldtog en fondsinsameling van stapel gestuur toe Sonell Joubert in hegtenis geneem is vir die dood van Jurgens Nel op hul plaas naby Hectorspruit.
Sy het die hofverrigtinge bygewoon, Joubert ondersteun, en deurentyd die gemeenskap versoek om hul hande in die sak te steek vir Joubert se regskostes.
Janse van Rensburg verskyn op 27 Oktober weer in die hooggeregshof in die skrappingsaansoek wat die Regshulpraad teen haar bring.
* Hierdie berig is gewysig voordat dit aanlyn gepubliseer is. In die gedrukte weergawe het Laevelder gesê dat Zakhele Dube aangekla word dat hy onder die invloed die dood van twee veiligheidsvrywilligers veroorsaak het. Die koerant is later ingelig dat die derde slagoffer ook in die hospitaal aan haar beserings beswyk het.
Read original story on www.citizen.co.za