‘Ek sien mamma oor twee ure,’ maar toe sterf moeder in Vanderbijlpark
'n Ma van vier is dood nadat sy raakgery is by 'n kruising waar sy die laaste ses jaar gestaan en gehoop het op die goedhartigheid van motoriste.
“Ek sien mamma oor twee ure.” Dit was die laaste woorde van Angelique Jooste aan haar ma Colleen Coleman, min wetend dat sy nooit weer haar ma lewend sou sien nie.
Vaalweekblad berig Coleman (52) het vir die afgelope ses jaar daagliks by die Barrage- en Rossini-kruising by Vaal Mall in Vanderbijlpark gestaan en gehoop op die goedhartigheid van motoriste.
Kop onderstebo, en soms selfs kaalvoet, het sy daar gestaan tussen die verkeer … of die verkeerslig groen of rooi was.
Dit het egter tot haar dood gelei toe sy op 13 September omstreeks 15:00 deur ‘n motor teen ‘n hoë spoed getref is.
Die bestuurder wou glo van baan verwissel en het Coleman nie in die pad sien staan nie. Sy is op slag dood.

Ooggetuie
“Dit het alles voor my oë gebeur. Colleen het deur die lug getrek tot aan [die] oorkant van die kruising. Die motor het reg op my afgepyl tot aan die ander kant van Barrageweg in die teenoorgestel rigting,” vertel Magda Grobler.
Grobler staan al jarelank met haar bordjie langs Barrageweg in die rigting van Vereeniging. Sy moes vir skok op die toneel behandel word.
“Ek het so groot geskrik en het sommer aan die bewe gegaan. Ons was goeie vriende en het altyd iets te ete of te drinke met mekaar gedeel as ons ekstra gehad het,” vertel Grobler terwyl sy die trane wegvee.

Sy en ander hulpverleners wat eerste op die toneel was, is daarvan oortuig dat die bestuurder van die motor onder die invloed van drank agter die stuur was.
Daar is intussen ‘n saak teen die bestuurder aanhangig gemaak.
‘n Groot skok
Dit was ook vir Jooste ‘n groot skok.
“Ek het bietjie langer gedraai by die huis en was op pad na my ma toe, toe my sussie vir my skree dat ons ma raakgery was. Ek het sommer soontoe gehardloop, maar dit was te laat,” vertel Jooste.
Coleman het nog drie ander dogters. Sy en haar jongste, die 12-jarige Jennifer, het by haar oudste dogter Irene Nel in Drie Riviere gebly. Dan is daar ook die verstandelik gestremde Vallerie (26).

“My ma het die afgelope tyd min geld gemaak, maar sy het daagliks haar weg na die kruising gevind al die pad van Vereeniging af. As daar nie geld vir ‘n taxi was nie het sy geloop. Sy het eintlik haar voete stukkend geloop,” vertel ‘n hartseer Jooste.
Met die geld wat sy gemaak het, het sy na haar jongste en gestremde dogter se behoeftes omgesien.
Coleman se gedenkdiens word Donderdag om 11:00 vanuit die Kerk van die Nasarener in Vanderbijlpark gehou.
* Purple Rain Funerals van Vanderbijlpark behartig haar verassing, die diens en verversings op hulle eie onkoste.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za