‘Ek sien mamma oor twee ure’ – maar toe sterf moeder
Kerse is aangesteek en blomme neergelê verlede Woensdagaand, tydens 'n spesiale huldeblyk aan wyle Colleen Coleman.
VANDERBIJLPARK – “Ek sien mamma oor twee ure.” Dit was die laaste woorde van Angelique Jooste aan haar ma Colleen Coleman, min wetend dat sy nooit weer haar ma lewend sou sien nie.
Colleen (52) het vir die afgelope ses jaar daagliks by die Barrage- en Rossini-kruising by Vaal Mall gestaan, en gehoop op die goedhartigheid van motoriste.
Kop onderstebo, en soms selfs kaalvoet, het sy daar gestaan tussen die verkeer … of die verkeerslig groen of rooi was.
Dit het egter tot haar dood gelei toe sy verlede Saterdag (13 September), omstreeks 15:00 deur ‘n motor teen ‘n hoë spoed getref is.
Die bestuurder wou glo van baan verwissel en het Colleen nie in die pad sien staan nie. Sy is op slag dood.

“Dit het alles voor my oë gebeur. Colleen het deur die lug getrek tot aan oorkant van die kruising. Die motor het reg op my afgepyl tot aan die ander kant van Barrageweg in die teenoorgestel rigting,” vertel tannie Magda Grobler.
Sy staan al jarelank met haar bordjie langs Barrageweg in die rigting van Vereeniging. Sy moes vir skok op die toneel behandel word.
“Ek het so groot geskrik en het sommer aan die bewe gegaan. Ons was goeie vriende en het altyd iets te ete of te drinke met mekaar gedeel as ons ekstra gehad het,” vertel tannie Magda terwyl sy die trane wegvee.
Sy en ander hulpverleners wat eerste op die toneel was, is daarvan oortuig dat die bestuurder van die motor onder die invloed van drank agter die stuur was.
Daar is intussen ‘n saak teen die bestuurder aanhangig gemaak.

Dit was ook vir Angelique ‘n groot skok.
“Ek het bietjie langer gedraai by die huis en was op pad na my ma toe, toe my sussie vir my skree dat ons ma raakgery was. Ek het sommer soontoe gehardloop, maar dit was te laat,” vertel Angelique.
Colleen het nog drie ander dogters. Sy en haar jongste, die 12-jarige Jennifer, het by haar oudste dogter Irene Nel in Drie Riviere gebly. Dan is daar ook die verstandelik gestremde Vallerie (26).
“My ma het die afgelope tyd min geld gemaak, maar sy het daagliks haar weg na die kruising gevind al die pad van Vereeniging af.
“As daar nie geld vir ‘n taxi was nie het sy geloop. Sy het eintlik haar voete stukkend geloop,” vertel ‘n hartseer Angelique.
Met die geld wat sy gemaak het, het sy na haar jongste en gestremde dogter se behoeftes omgesien.
Colleen se gedenkdiens word Donderdag om 11:00 vanuit die Kerk van die Nasarener, Vanderbijlpark gehou.
* Purple Rain Funerals van Vanderbijlpark behartig Colleen se verassing, die diens en verversing op hulle eie onkoste.





