Kat oorleef 180km rit van Mooinooi tot Meyerton in motorenjin

Twee sussies van die Vaaldriehoek is opsoek na die eienaars van 'n klein kat wat 'n lang pad in 'n buitengewone plek deurgebring het.

Dit is nie elke dag dat ’n mens ’n verstekeling in ’n motorenjin vind nie, maar vir twee susters van Meyerton in die Vaaldriehoek het ’n doodgewone Maandag in ’n groot verrassing ontaard toe ’n klein katjie na ’n moeisame tog van sowat 180km uit ’n enjinruimte gered is.

Vaalweekblad berig dat Natasha Groenewald en haar suster, Marozane, wat ’n motorwerktuigkundige onderneming in die dorp besit, op dié dag ’n benoude gemiau vanuit ’n voertuig in hulle werkswinkel gehoor het.

By nadere ondersoek het hulle die klein katjie gevind – vuurwarm, maar ongedeerd.

“Ons vermoed die katjie het Maandag tydens ’n storm in Mooinooi (Rustenburg) skuiling in die enjin gesoek,” vertel Natasha.

Die voertuig het egter na Meyerton vertrek voordat die klein reisiger kon ontsnap.

‘Mooinooi’ het die rit, wat seker vir haar soos ‘n ewigheid gevoel het, oorleef. Foto’s: Natasha Groenewald

‘Mooinooi’

Die katjie, wat intussen gepas as ‘Mooinooi’ gedoop is, het die lang pad oorleef en is volgens Natasha verbasend sosiaal.

“Sy is baie vriendelik en duidelik gewoond aan mense. Ons het reeds probeer om haar eienaars in Rustenburg op te spoor, maar tot dusver sonder sukses.”

Mooinooi het haar intussen tuisgemaak en die ‘baas’ se kantoor by die werkswinkel as haar tydelike koninkryk opgeëis.

Hoewel sy daar veilig is, is die susters op soek na ’n meer permanente oplossing.

Die hoop is groot dat Mooinooi ’n liefdevolle tuiste sal vind waar sy met oorgenoeg aandag en ‘vryfies’ bederf sal word.

Aangesien die kans skraal is dat haar oorspronklike eienaars opgespoor sal word, word daar nou na ’n nuwe eienaar gesoek.

Het jy inligting oor Mooinooi se eienaars, of wil jy haar dalk ’n nuwe kans op geluk gee?

Kontak Natasha by 062 641 7280.


Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button