News

Klein kieterkat oorleef 180 km rit in motorenjin

Die lang rit het waarskynlik soos 'n ewigheid vir die katjie gevoel, maar sy het dit oorleef.

MEYERTON – Dit is nie elke dag dat ’n mens ’n verstekeling in ’n motorenjin vind nie, maar vir twee susters van die dorp het ’n doodgewone Maandag in ’n groot verrassing ontaard toe ’n klein katjie na ’n moeisame tog van sowat 180 km uit ’n enjinruimte gered is.

Natasha Groenewald en haar suster, Marozane, wat ’n motorwerktuigkundige onderneming in die dorp besit, het Maandag ’n benoude gemiau vanuit ’n voertuig in hul werkswinkel gehoor.

By nadere ondersoek het hulle die klein katjie gevind – vuurwarm, maar ongedeerd.

“Ons vermoed die katjie het Maandag tydens ’n storm in Mooinooi (Rustenburg) skuiling in die enjin gesoek,” vertel Natasha.

Die voertuig het egter na Meyerton vertrek voordat die klein reisiger kon ontsnap.

Die katjie, wat intussen gepas as ‘Mooinooi’ gedoop is, het die lang pad oorleef en is volgens Natasha verbasend sosiaal.

Mooinooi het die rit, wat seker vir haar soos ‘n ewigheid gevoel het, oorleef. Foto’s: Natasha Groenewald

“Sy is baie vriendelik en duidelik gewoond aan mense. Ons het reeds probeer om haar eienaars in Rustenburg op te spoor, maar tot dusver sonder sukses.”

Mooinooi het haar intussen tuisgemaak en die “baas” se kantoor by die werkswinkel as haar tydelike koninkryk opgeëis.

Hoewel sy daar veilig is, is die susters op soek na ’n meer permanente oplossing.

Met die langnaweek wat wink, is die hoop groot dat Mooinooi ’n liefdevolle tuiste sal vind waar sy met oorgenoeg aandag en “vryfies” bederf sal word.

Aangesien die kans skraal is dat haar oorspronklike eienaars opgespoor sal word, word daar nou na ’n nuwe eienaar gesoek.

Het jy inligting oor Mooinooi se eienaars, of wil jy haar dalk ’n nuwe kans op geluk gee?

Kontak Natasha by 062 641 7280.

Mooinooi het haar intussen tuisgemaak in die baas se kantoor by die werkswinkel. Foto: Natasha Groenewald
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button