Luiperd op dak in George? Kenner sê dis nie onmoontlik nie
Die inwoners van Denneoord is al gewoond aan al die wildediere in hulle omgewing, maar toe gerugte oor ’n luiperd die ronde doen, was die gort behoorlik gaar.
’n Luiperd op die dak is nie ’n alledaagse gesig nie.
Vra vir ’n egpaar van Denneoord, ‘n gesogte woonbuurt in George in die Wes-Kaap, en hulle sal jou vinnig vertel van dié Saterdagaand (20 Julie) toe selfs hul honde vir dié gevaarlike roofdier geblaf het, berig George Herald.
Dié storie het vinniger as ’n veldbrand op sosiale media versprei, nadat die inwoner, wat eerder anoniem wil bly, hul luiperd-ervaring op verskeie Facebook-groepe gedeel het
Na dié voorval staan Denneoord nou bekend as die ‘Denneoord-wildtuin’, want as die bobbejane nie amok maak nie, kruip ’n luiperd op ’n dak rond.
Die vrou vertel dat hulle uitgestorm het om ondersoek in te stel nadat hulle ’n geweldige geraas op hul dak gehoor het. En tot hul verbasing het hul ’n groot ‘kat’ gewaar.
“Dit het alles binne sekondes gebeur,” vertel sy.
Volgens haar het die dier groot geskrik en met ’n indrukwekkende sprong van die dak afgespring, oor die buurman se muur verdwyn en koers gekies na die omliggende bosse. Die egpaar woon slegs drie huise van die berg af.
Die luiperd was net té vinnig vir die kamera se lens, maar hulle is oortuig daarvan dat dit ’n volwasse luiperd was.
Reaksies van die publiek
Dié luiperd-storie het intussen talle reaksies ontlok wat gewissel het van nuuskierige opgewondenheid tot skeptiese sinisme.
Sommige inwoners was van mening dat dit eerder ’n groot muskeljaatkat was, terwyl ander nie die moontlikheid van ’n luiperd uitgesluit het nie.
Nie al die kommentare was vriendelik nie. Van die sogenaamde sleutelbordvegters het die plasing met kritiek en spot ontvang, en die negatiewe reaksie was só hewig dat die inwoner uiteindelik haar plasings verwyder het.
Maar hoe waarskynlik is dit werklik dat ’n luiperd deur ’n woonbuurt soos Denneoord beweeg – of selfs op ’n dak sou beland?
George Herald het met dr. Bool Smuts, stigter en algemene bestuurder van die Landmark Foundation, gesels. Die organisasie fokus op mens-wilddier-saambestaan en die bestuur van konflik, met ’n sterk klem op luiperdbewaring.
Smuts, ’n luiperdnavorser en navorsingsgenoot aan die Universiteit van Wes-Kaapland, bestudeer dié roofdiere al jare lank.
Volgens Smuts is dit heel moontlik dat dit inderdaad ’n luiperd kon wees.
“Wat ons wel weet, is dat luiperds al vir geslagte lank aan die buitewyke van George voorkom. Dit is glad nie iets nuuts nie,” sê hy.
Hy wys daarop dat daar in die verlede selfs ’n luiperd met ’n opsporingshalsband in die gebied naby die Tuinroetedam voorgekom het, nie ver van Denneoord af nie.
“Daardie dier het gereeld tot by die rand van die woonbuurt beweeg. Dit verbaas my dus glad nie dat ’n luiperd daar kon opdaag nie,” sê hy.
Smuts beskryf luiperds as skugter diere wat gewoonlik nie maklik opgemerk word nie.
“Op ’n dak sou die dier egter duidelik teen die agtergrond uitstaan, wat dit makliker maak om hom raak te sien. Luiperds gebruik ook dikwels hoër uitkykpunte om hul omgewing te monitor.”
Hoewel dit nie algemeen is dat luiperds op dakke klim nie, sê hy dié gedrag kan nie uitgesluit word nie.
Hy maan egter dat inwoners nie paniekerig hoef te raak nie en dié dier te vrees nie.
“Ons behoort eerder die feit te waardeer dat sulke merkwaardige biodiversiteit steeds deel van ons omgewing is.”
Tuisgebied
Volgens Smuts beslaan ’n mannetjiesluiperd se tuisgebied sowat 15 000 hektaar, terwyl wyfies gewoonlik tussen 8 000 en 9 000 hektaar benut. Indien die dier wel in Denneoord was, sou die woonbuurt waarskynlik binne die buitenste rand van sy gevestigde gebied val.
Dit neem ’n luiperd sowat twee maande om sy gebied volledig te patrolleer.
“Die dier sou waarskynlik reeds aanbeweeg het en kan moontlik eers weer oor twee of drie maande terugkeer, afhangend van die grootte van sy tuisgebied,” sê hy.
Smuts meen die luiperd was waarskynlik reeds bewus van mense voordat mense ooit van hom bewus geraak het.
“Luiperds is uiters sensitief vir hul omgewing – hulle móét wees om te oorleef.”
Hy voeg by dat die gebied waarskynlik al vir jare deel van die dier se natuurlike beweegruimte vorm.
“Daar is geen geskiedenis van Kaapse luiperds wat mense in die Kaapprovinsie aanval nie. Die enigste gevalle van beserings was waar diere gejag of in ’n hoek gedryf is.”
Hoewel daar volgens hom geen rede tot kommer oor menslike veiligheid is nie, bly troeteldiere moontlik kwesbaar.
“Luiperds is opportuniste. Hulle benut enige maklike en weerlose prooi. Indien so ’n besoeker weer opdaag, is dit raadsaam om troeteldiere binnenshuis te hou.”
Smuts se raad is eenvoudig: “Laat die dier met rus.”
Of die geheimsinnige besoeker werklik ’n luiperd, ’n muskeljaatkat of bloot ’n besonder atletiese huiskat was, sal niemand ooit weet nie.
Wat wel seker is, is dat Denneoord se inwoners nou met nuwe oë na hul dakke kyk.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.georgeherald.com