Karwas-nagmerrie kos Meyerton-egpaar glo duisende ná beweerde vulstasie-blaps
Wat veronderstel was om net 'n vinnige was-en-ry te wees, het in maandelange frustrasie en ’n geskil oor aanspreeklikheid ontaard nadat ’n voertuig glo tydens die proses in 'n botsting betrokke was.
’n Vrou van Meyerton wou net haar kar laat was, maar bykans twee maande later is die gort behoorlik gaar oor skade aan die motor wat sowat R44 000 beloop, berig Vaalweekblad.
Boonop wil nie een van die partye aanspreeklikheid vir dié skade aanvaar nie.
Yolandi Wheeler het op 26 Mei haar Hyundai Creta by die Sasol-vulstasie in Pierneef Boulevard vir ’n karwas geneem.
Wheeler beweer dat sy by die betaalpunt navraag gedoen oor waar sy die voertuigsleutels moes oorhandig. Die kassier het glo vir haar gesê om dit vir die personeel by die karwas te gee.
En toe word haar kar gestamp
Wheeler het dié sleutels goedertrou oorhandig, net om ’n rukkie later te verneem dat een van die karwas se werknemers haar kar gestamp het.
Volgens Wheeler het ’n werknemer, wat op die toneel was, aanvanklik erken dat hy die voertuig bestuur en die botsing veroorsaak het.
Wheeler beweer egter dat sy later meegedeel is dat ’n ander persoon die voertuig bestuur het.
Sy en haar man het die voertuig na ’n paneelklopper geneem wat die skade op R43 595 bereken het.
Nadat die versekeraar die skade gedek het, moes die Wheelers steeds die bybetaling uit hul eie sakke betaal.
Sasol wil aanvaarbare oplossing vind
Sasol het aangebied om dit te dek indien hulle ’n skikkingsooreenkoms teken, maar hul regsverteenwoordiger het hul afgeraai om dit te doen omdat dit hul versekeraar se regte kon benadeel.
Ná ’n gewysigde weergawe het die egpaar uiteindelik besluit om die bedrag self te betaal.
Sasol het in ’n skriftelike verklaring aan Vaalweekblad bevestig dat hulle in gesprek is met ’n kliënt oor beweerde skade.
’n Areabestuurder het bygevoeg dat die maatskappy te goedertrou opgetree het om die saak vriendskaplik op te los, ondanks toepaslike vrywarings en prosedures.
Volgens Sasol sal dit voortydig wees om in hierdie stadium verder kommentaar te lewer aangesien die saak nog nie afgehandel is nie.
Die maatskappy het bygevoeg dat die verskillende opsies aan die klant verduidelik is, dat die klant sy reg uitgeoefen het om ‘n besluit te neem, en dat Sasol daartoe verbind bly om ‘n wedersyds aanvaarbare oplossing te vind.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za