News

R100-karwas eindig in skade van byna R44 000

’n R100-karwas by 'n vulstasie in Meyerton het glo ontaard in ’n skade-eis van byna R44 000 – en nou woed ’n geskil oor wie verantwoordelik is.

MEYERTON – Wat begin het as eenvoudige karwas van sowat R100, het volgens ‘n plaaslike egpaar geëindig met skade van byna R44 000 aan hul voertuig en ‘n geskil oor aanspreeklikheid.

Yolandi Wheeler het op 26 Mei haar Hyundai Creta by die Sasol-vulstasie in Pierneef Boulevard vir ‘n karwas ingegee.

Volgens haar het sy by die betaalpunt navraag gedoen oor waar sy die voertuigsleutels moes ingee, waarna ‘n kassier haar glo meegedeel het om dit vir die personeel by die karwas te gee.

Kort daarna is sy deur ‘n werknemer in kennis gestel dat haar voertuig beskadig is. Volgens die egpaar het ‘n werknemer by die toneel aanvanklik erken dat hy die voertuig bestuur en die botsing veroorsaak het.

’n R100-karwas het ons met byna R44 000 se skade gelaat.

Hulle beweer egter dat hulle later meegedeel is dat ‘n ander persoon die voertuig bestuur het.

Die voertuig is volgens die egpaar na ‘n paneelklopper geneem, waar die skade op R43 595 begroot is.

Hulle sê hulle het die eis by hul versekeraar aangemeld en dat die versekeraar die skade hanteer het, maar dat hulle steeds verantwoordelik was vir die betaling van die versekering se bybetaling.

Skade aan die Wheelers se voertuig. Foto: Verskaf
Skade aan die Wheelers se voertuig na die ongeluk. Foto: Verskaf

Die egpaar beweer Sasol het aanvanklik aangebied om die bybetaling te betaal, maar slegs indien hulle ‘n skikkingsooreenkoms onderteken.

Volgens hulle het hul regsverteenwoordiger hulle aangeraai om dit nie te doen nie, aangesien die bewoording moontlik hul versekeraar se regte kon benadeel.

Hulle sê ‘n gewysigde weergawe van die ooreenkoms is later gestuur, maar dat hulle steeds nie gemaklik was om dit te onderteken nie.

Volgens die egpaar het hulle uiteindelik self die bybetaling betaal.

Die waarskuwingsteken by die karwas was een van die aspekte wat ter sprake gekom het nadat ‘n plaaslike egpaar beweer hul voertuig is tydens ‘n karwas beskadig. Foto: Verskaf

Vaalweekblad het Sasol om kommentaar genader.

In ‘n skriftelike verklaring het ‘n areabestuurder van Sasol, gesê: “Ons kan bevestig dat ons met ‘n kliënt in gesprek is oor beweerde skade.”

Hy het verder gesê dat Sasol te goeder trou opgetree het tydens gesprekke om die saak vriendskaplik op te los, hoewel daar vrywarings en prosedures in plek is.

Volgens Sasol sal dit voortydig wees om in hierdie stadium verder in die openbaar kommentaar te lewer aangesien die saak nog nie afgehandel is nie.

Die maatskappy het bygevoeg dat die verskillende opsies aan die klant verduidelik is, dat die klant sy reg uitgeoefen het om ‘n besluit te neem, en dat Sasol daartoe verbind bly om ‘n wedersyds aanvaarbare oplossing te bereik.

Die bankie by die karwas waar die voertuig volgens die egpaar skade opgedoen het. Foto: Verskaf

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button