‘Bly by my, Nìke,’ pleit ma
’n Eenjarige dogtertjie van Oudtshoorn in die Klein Karoo se ouers glo die Here het haar lewe gespaar nadat sy byna in die gesin se swembad verdrink het.
Wat as ‘n gewone Dinsdagoggend vir die Kruger-gesin van Oudtshoorn begin het, het binne oomblikke in ‘n nagmerrie verander toe hul eenjarige dogtertjie, Nìke verlede week byna in die gesin se swembad verdrink het, berig Oudtshoorn Courant.
Die feit dat Nìke leef, is volgens haar ma, Bianca Kruger, ‘n wonderwerk van God en dit is ook presies waarom sy besluit het om hul storie te deel.
“God is groot en mense moet dit weet.”
Bianca vertel dat haar man, Reinart, die oggend soos gewoonlik werk toe is, terwyl sy en haar twee seuns, Renier (10) en Marlo (7), met hul daaglikse tuisskoolroetine besig was.
Sy het vroeër die oggend ‘n afspraak gehad om Nìke vir haar eenjaarondersoek na die kliniek te neem.
“Toe ons by die huis kom, het ek Nìke op die mat neergesit waar sy gespeel het terwyl ek die seuns met hul skoolwerk gehelp het.”
Omdat Nìke reeds kruip, maak die gesin gewoonlik die groot ingang na die vertrek toe deur iets voor die opening te skuif.
“Die volgende oomblik het Renier gevra waar sussie is. Ek het hom gevra om solank te gaan kyk.”
Wat daarna gevolg het, was oomblikke van pure angs.
“Ek was ‘n paar tree agter hom toe ek hom hoor skree. Hy het Nìke in die swembad op haar rug sien dryf en haar dadelik uitgehaal.”
Blou handjies, voetjies en mond
Volgens Bianca was Nìkewakker en haar oë oop, maar haar handjies, voetjies en mond was blou en sy het lomerig voorgekom.
Bianca het onmiddellik begin om noodhulp toe te pas.
Sy het begin hoes
“Ek het mond-tot-mond-asemhaling gegee en aanhou sê: ‘Bly by my, Nìke.’ Toe begin sy hoes. Ek was so verlig toe ek besef sy haal asem.”
Sy het Nìke droog aangetrek en onmiddellik na die hospitaal geneem. Bianca het haar seun gevra om Nìke tydens die rit wakker te hou.
By die hospitaal is Nìke op suurstof geplaas en teen koue behandel voordat die besluit geneem is om haar na Life Bay View Hospitaal in Mosselbaai oor te plaas.
Bianca sê die rit per ambulans was die langste 45 minute van haar lewe.
“Met Nìke op my skoot, gekoppel aan die masjiene, was my oë vasgenael op haar suurstofvlakke.
“Ek het gebid dat die Here haar moet vashou, want daar is niks wat ek vir haar kon doen nie. Ek het regtig bang en ongelooflik skuldig gevoel. My gedagtes het gejaag. Hoe het dit gebeur? Hoe het sy uitgekom? Hoe lank was sy in die swembad?”
Toe hulle by die hospitaal in Mosselbaai aankom, het ‘n pediater reeds vir hulle gewag nadat die dokter in Oudtshoorn hom oor die omstandighede rondom die voorval en Nìke se toestand ingelig het.
“Sy eerste woorde was: ‘Sy is ‘n wonderwerk, ‘n absolute wonderwerk.’ Hy het gesê hy het verwag om ‘n eenjarige aan ‘n ventilator te koppel, maar hier was sy by haar bewussyn.’
Volgens Bianca was die dokter ook tevrede met die toestand van haar longe. Nìke is op suurstof geplaas en daar was ook volgens die skanderings geen water in haar longe nie.
Nìke is in die waakeenheid gemonitor voordat sy ná een nag na die pediatriese saal verskuif is. Sy is verlede Donderdag ontslaan en is weer haar ou gelukkige self en steeds nie bang vir water nie.
‘n Geloofservaring
Vir die Kruger-gesin was die voorval nie net ‘n traumatiese ervaring nie, maar ook ‘n geloofservaring.
Ná hul ontslag het die gesin ‘n sielkundige en pastorale berader besoek, om Bianca se twee seuns deur die traumatiese ervaring te help.
Tydens die sessie is hulle gevra om hul oë toe te maak en die toneel voor te stel waar Nìke in die swembad was en te dink waar hulle Jesus in daardie oomblik sien.
“Ons het nie vooraf met mekaar hieroor gepraat nie, maar na die tyd was dit ongelooflik om te besef dat ons almal in daardie prentjie Jesus by haar in die water gesien het.”
Toe die gesin later weer by die swembad gestaan het, het Reinart vir Nìke gevra waar Jesus was en of Hy haar vasgehou het.
Volgens Bianca het Nìke na die plek gewys waar sy gevind is en het die woord “water” gesê.
Vir die Kruger-gesin het dit hul geloof versterk en hul oortuiging bevestig dat Nìke se herstel niks minder as ‘n wonderwerk was nie.
“Deur al my selfverwyt en twyfel het die Here vir my gesê: ‘This is not a sign of your incompetence, but of My competence.'”
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.oudtshoorncourant.com