Oudtshoorn-volstruisboer se liggaam gevind ná vloedwater sy voertuig meesleur

’n Onvermoeide soektog deur reddingswerkers, polisieduikers, familie- en gemeenskapslede het gistermiddag geëindig toe die 85-jarige Saag Jonker se Toyota Land Cruiser in die Olifantsrivier gevind is.

Die bekende volstruisboer, Saag Jonker (85), se motor met sy liggaam daarin is ná drie dae se onverpoosde soektog gistermiddag (29 September), in die Olifantsrivier gevind, berig die Oudtshoorn Courant.

Jonker se voertuig is Sondagmiddag (27 September) deur ’n sterk stroom meegesleur ná hy probeer het om die laagwaterbrug op die Rooiheuwel-pad oor die Olifantsrivier, sowat 3km buite Oudtshoorn, oor te steek.

Jonker was daardie oggend, soos hy dit al jare lank doen, besig met sy gewone rondtes en inspeksies op plase. Hy was omstreeks 13:00 op pad terug na sy huis in Oudtshoorn toe die voorval plaasgevind het.

Die Olifantsrivier was op daardie stadium in vloed ná swaar reënval in die opvangsgebied suid van Beaufort-Wes. Die sterk stroom het die soektog na Jonker en sy voertuig aansienlik bemoeilik.

Reddingswerkers, polisieduikers, familielede en lede van die gemeenskap het die afgelope drie dae onverpoosd na Jonker en sy voertuig gesoek.

Vier professionele polisieduikers was onder meer by die soektog betrokke. Hulle moes onder uiters moeilike toestande werk, met feitlik geen sigbaarheid onder die water en ’n sterk stroom wat dit moeilik gemaak het om die rivierbodem sistematies te deursoek.

Teen gistermiddag het polisieduikers en brandweerduikers met ’n boot en visvinder die rivier verder deursoek. Die reddingspanne het op die rivier gefokus, terwyl toegang tot die toneel vir lede van die publiek en media beperk is om die soektog te vergemaklik.

Jonker se familie het  sy dood bevestig en gesê dat hulle te midde van hul hartseer dankbaar is dat hy gevind is en dat hulle nou behoorlik van hom kan afskeid neem.

“Na drie ongelooflik moeilike dae van onsekerheid, hoop, gebed en ’n onvermoeide soektog is ons as familie diep dankbaar dat Oupa in sy bakkie in die Olifantsrivier gevind is,”  sê die familie in ’n verklaring.  

“Al is ons harte baie seer, is daar ook ’n groot gevoel van dankbaarheid en berusting dat ons hom gevind het, dat ons hom nou huis toe kan bring, en dat ons as familie saam behoorlik van hom kan afskeid neem.’’

Jonker was sedert 1976 aan die stuur van die Saag Jonker Groep in Oudtshoorn, wat gemoeid is met die verwerking van volstruisvleis en die internasionale bemarking daarvan.

Hy is in 2000 deur die Landbouskrywers van Suid-Afrika as Boer van die Jaar aangewys.

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.oudtshoorncourant.com

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Liezl van Niekerk

This article was written by the editor of the Oudtshoorn Courant.
Back to top button