Eerste foto’s van Donovan Marx uit hospitaalbed in Potchefstroom
'n Groot glimlag vanuit 'n hospitaalbed het familie en vriende ná verlede week se traumatiese aanval op 'n Noordwes-boer nuwe hoop gegee.
“Vandag wil ons graag hierdie foto met julle deel sodat julle ook die vrug van julle gebede kan sien. Dit is vir ons ‘n wonderwerk dat hy lewe.”
Só het die familie van Donovan Marx, vroeër vandag (5 November) gesê nadat hulle vir die eerste keer toestemming gegee om ’n foto van sy vordering vanuit die Potchefstroom Mediclinic te deel, berig die Potchefstroom Herald.
Sy familie noem dat hul dankbaar en verwonder is oor sy herstel en vordering in die hospital.
“Die foto is vir die familie veel meer as bloot ‘n beeld van Donovan se herstel. Dit is vir hulle ‘n getuienis van God se groot genade, Sy beskerming en die krag van gebed,” sê die familie se woordvoerder Marlene Steyn du Toit.
Albei Donovan se ore is in die aanval afgesny. Hy het reeds groot chirurgiese ingrypings ondergaan en sy herstelpad is nog lank.
Ten spyte van die erns van sy beserings en die uitdagings wat hy reeds moes oorkom is die familie positief.
Sy vrou, Louise sê dat hulle harte van dankbaarheid oorloop. “Wanneer ons terugdink aan wat Donovan deurgemaak het en ons hom vandag sien, kan ons net aan die Here al die eer gee. Ons weet hoeveel mense regoor Suid-Afrika vir Donovan gebid het en steeds bid.
“Vandag wil ons graag hierdie foto met julle deel sodat julle ook die vrug van julle gebede kan sien. Dit is vir ons ‘n wonderwerk dat hy lewe. Ons sien elke dag die Here se groot genade in sy herstel.”
“Ons weet daar lê nog ‘n lang pad voor, maar ons glo dat dieselfde God wat hom tot hier gedra het, hom ook verder sal dra.
Dankie aan elkeen wat saam met ons bid, hoop en glo. Julle liefde en ondersteuning beteken vir ons meer as wat woorde ooit kan beskryf,” sê Louise.
Donovan se herstel bly die prioriteit
Hoewel Donovan se vordering vir die familie groot rede tot dankbaarheid bied, bly sy beserings ernstig en benodig hy steeds gespesialiseerde mediese sorg, noukeurige monitering en verdere hersteltyd.
Die familie is besonder dankbaar vir die mediese span van Mediclinic Potchefstroom en die toegewyde sorg wat hy ontvang.
Hulle vra dat die publiek sal voortgaan om vir sy volledige herstel, die voorkoming van ernstige komplikasies en die wysheid en leiding van sy behandelende mediese span te bid.
Die familie spreek ook opnuut hul opregte dankbaarheid uit teenoor die gemeenskappe van Ventersdorp en Potchefstroom, asook die duisende Suid-Afrikaners en mense van regoor die wêreld wat deur gebede, boodskappe, praktiese hulp en onbaatsugtige ondersteuning by hulle staan.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za