Matrikulant help om Meyerton-polisiestasie te verfraai

Plaaslike ondernemings en vrywilligers in die Sedibeng-distrik het hande gevat nadat ’n tiener besluit het om self ’n verskil te maak.

’n Matrikulant van Hoërskool Dr Malan in Meyerton in die Sedibeng-distrik van Gauteng het besluit om self in te spring nadat sy op ’n Vrydagaand buite die Meyerton-polisiestasie gewag het.

Volgens Vaalweekblad was Johaleine La Grange (18) se ouers, wat albei in die polisie werk, besig om papierwerk af te handel toe sy die toestand van die gebou opgemerk het.

“Ek het op die sypaadjie gesit en kyk. Dis waar ek begin dink en wonder het of iemand nie net die polisiestasie kan oorverf en mooi laat lyk nie,” vertel sy.

“Net daar het ek besluit ek gaan nie wag vir iemand om dit te doen nie. Ek gaan daardie iemand wees.”

Johaleine het haar idee met mense en polisiebeamptes met wie sy oor naweke werk, gedeel.

Die verf het plek-plek van die muur by die Meyerton-polisiestasie afgedop voordat vrywilligers ingespring het. Foto: Verskaf

Hulle het haar aangemoedig en sy het ook ondersteuning van haar ouers ontvang.

Sy het die projek beplan, toestemming gekry en plaaslike ondernemings om ondersteuning genader.

Op 17 Oktober het 17 vrywilligers hand bygesit om die heining en ingangsmuur by die stasie te verf.

Hulle het ook die voortuin skoongemaak, bome en bosse gesnoei, takke verwyder, rommel opgetel en dromme leeggemaak.

Johaleine la Grange (18) help self om te verf tydens die opknappingsprojek. Foto: Verskaf

Twee vragte tuinafval is met ’n vier-ton-vragmotor weggery. Verskeie ondernemings het die projek ondersteun.

PietRia Hardware het verf en toebehore geskenk, terwyl Lynca Meats wors en Pick n Pay rolletjies voorsien het.

Tri Waters en Blend & Brew het water beskikbaar gestel en CERT Vaal het ’n gazebo voorsien.

Ander lede van die publiek het ook gehelp, maar verkies om nie genoem of afgeneem te word nie.


Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button