Matrikulant help om Meyerton-polisiestasie te verfraai
Johaleine La Grange (18) het nie gewag dat iemand anders die verfkwas optel nie.
MEYERTON – ’n Matrikulant van Hoërskool Dr. Malan het besluit om self in te spring nadat sy op ’n Vrydagaand buite die Meyertonpolisiestasie gewag het.
Johaleine La Grange (18) se ouers, wat albei in die polisie werk, was besig om papierwerk af te handel toe sy die toestand van die gebou opgemerk het.
“Ek het op die sypaadjie gesit en kyk. Dis waar ek begin dink en wonder het of iemand nie net die polisiestasie kan oorverf en mooi laat lyk nie,” vertel sy.

“Net daar het ek besluit ek gaan nie wag vir iemand om dit te doen nie. Ek gaan daardie iemand wees.”
Johaleine het haar idee met mense en polisiebeamptes met wie sy oor naweke werk, gedeel.
Hulle het haar aangemoedig en sy het ook ondersteuning van haar ouers ontvang.
Sy het die projek beplan, toestemming gekry en plaaslike ondernemings om ondersteuning genader.

Op 17 Oktober het 17 vrywilligers hand bygesit om die heining en ingangsmuur by die stasie te verf.
Hulle het ook die voortuin skoongemaak, bome en bosse gesnoei, takke verwyder, rommel opgetel en dromme leeggemaak.

Twee vragte tuinafval is met ’n vier ton vragmotor weggery. Verskeie ondernemings het die projek ondersteun.
PietRia Hardware het verf en toebehore geskenk, terwyl Lynca Meats wors en Pick n Pay rolletjies voorsien het.
Tri Waters en Blend & Brew het water beskikbaar gestel en CERT Vaal het ’n gazebo voorsien.
Ander lede van die publiek het ook gehelp, maar verkies om nie genoem of afgeneem te word nie.

