Vaaldriehoek-juffrou laat ’n nalatenskap van liefde ná tragiese lewenspad

Inwoners en kollegas van Sasolburg onthou ’n dapper Laerskool Leeuwspruit-onderwyser wie se deursettingsvermoë en omgee diep spore in talle lewens getrap het.

Die dood van haar seuntjie, Harlouw, het ’n onherstelbare leemte in haar lewe gelaat – nou is ’n geliefde onderwyseres van Sasolburg self na ’n lang siekbed oorlede.

Lou-Lita Corver (34) is op Dinsdag (3 November) omstreeks 11:02 oorlede nadat haar niere ingegee het en verskeie ander organe daarna begin faal het, berig die Vaalweekblad.

Haar dood laat ’n groot leemte by haar familie, vriende en die skoolgemeenskap van Laerskool Leeuwspruit, waar sy sedert 2024 skool gehou het.

Haar sussie, Miané Skinner, onthou haar  as ’n talentvolle, intelligente vrou met ’n sagte hart vir kinders, ’n liefde vir kuns en ’n onversadigbare nuuskierigheid.

Corver het aan Noordskool skoolgegaan en haar hoërskoolloopbaan aan Hoërskool Sasolburg voltooi. Sy het daarna aan die Noordwes-Universiteit se Vaalkampus studeer, waar haar studies psigometrie en bedryfsielkunde ingesluit het. Volgens Miané het sy ook ’n honneursgraad behaal.

Haar belangstelling in sielkunde het volgens haar sussie duidelik in haar werk met kinders na vore gekom. Ná haar dood het ouers boodskappe aan die familie gestuur waarin hulle vertel het hoe sy kinders se hartseer en teleurstellings met deernis hanteer het.

Haar seuntjie met in-vitro-bevrugting verwek

Maar dit was haar seuntjie wat ’n besondere plek in haar lewe ingeneem het.

Harlouw is volgens Skinner deur middel van in-vitro-bevrugting verwek en het van geboorte af met verskeie gesondheidsprobleme gesukkel. Hy het net een niertjie gehad, ’n gaatjie in sy hart en longprobleme.

“Hy was ’n verskriklik spesiale seuntjie,” het Skinner vertel.

Ondanks sy gesondheidsuitdagings het Harlouw hard baklei, maar hy kon net nie verder aan die lewe vasklou nie.  Volgens Skinner het hy net een niertjie gehad, ’n gaatjie in sy hart en longprobleme. 

Sy afsterwe het ’n diep leemte in Corver se lewe gelaat, het Skinner gesê.  “Alles wat sy gedoen het, het sy vir Harlouw gedoen,” het Skinner gesê.

Lou-Lita Corver het sedert 2014 met diabetes saamgeleef. Volgens haar sussie, Skinner, het haar bloedsuikervlakke die afgelope jaar al hoe moeiliker beheerbaar geraak. Sy het ook herhaaldelik nier- en blaasprobleme ondervind.

Haar hart het verswak

Tydens ’n hospitaalopname vroeg in September is sy vir ‘n swaminfeksie behandel.

Ondanks behandeling het haar toestand steeds versleg. Sy is later na die intensiewesorgeenheid oorgeplaas nadat haar hart verswak het. Vog in haar longe het haar asemhaling verder bemoeilik. Die mediese span het uiteindelik probeer om haar op ’n ventilator te plaas, maar haar hart het gaan staan. Pogings om haar by te bring, was onsuksesvol.

Selfs gedurende haar siekbed het Corver volgens Skinner haar glimlag en moed behou.

“Sy het alles aangepak met soveel moed en soveel selfvertroue,” sê Skinner.

Hul ma, Sunette, en Skinner se man, Ivan, was deur hierdie moeilike tyd ’n groot bron van ondersteuning vir die familie.

Laerskool Leeuwspruit het ook op sy Facebookblad hulde aan Corver gebring.

“Die wêreld is beslis armer, maar die hemel is ’n engel ryker,” lui die skool se boodskap.

Corver se gedenkdiens vind op 12 November om 14:00 by Kompas Gemeente in Vanderbijlpark plaas.

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button