SASOLBURG – ’n Geliefde onderwyseres met ’n sagte hart vir kinders, ’n liefde vir kuns en ’n groot dors na kennis.
Só sal Lou- Lita Corver (34) deur haar familie, vriende en die skoolgemeenskap van Laerskool Leeuwspruit onthou word.
Lou-Lita is volgens haar sussie, Miané Skinner, op 3 November omstreeks 11:02 ná ’n lang siekbed oorlede. Volgens Miané het haar niere ingegee, waarna verskeie ander organe ook begin ingee het.

Vir haar familie was sy egter veel meer as haar siekte: ’n talentvolle, intelligente vrou, ’n toegewyde juffrou en ’n ma wat haar seuntjie, Harlouw, baie liefgehad het. Lou-Lita, gebore Neethling, het aan Noordskool skoolgegaan en haar hoërskoolloopbaan by die Hoërskool Sasolburg voltooi.
Sy het daarna aan die NWU se Vaalkampus studeer, waar haar studies psigometrie en bedryfsielkunde ingesluit het. Volgens Miané het sy ook ’n honneursgraad behaal. Sy het in 2024 by Leeuwspruit begin skoolhou.
Haar belangstelling in sielkunde het volgens Miané neerslag gevind in haar werk met kinders. Boodskappe wat ouers ná haar afsterwe aan die familie gestuur het, vertel van ’n juffrou wat met deernis na kinders se hartseer en teleurstellings geluister en hulle vertroos het.
Lou-Lita was ook kunstig en baie lief vir teken. Miané onthou haar breë algemene kennis, belangstelling in die wêreld om haar en voortdurende begeerte om verder te leer. “Sy was ’n vrou van baie talente,” sê Miané.
’n Besonderse deel van Lou-Lita se lewe was haar seuntjie, Harlouw, wat volgens Miané deur middel van IVF verwek is en van geboorte af met sy gesondheid gesukkel het. “Harlouw was ’n verskriklik spesiale seuntjie,” vertel sy.
Volgens Miané het hy net een niertjie gehad, ’n gaatjie in sy hart en longprobleme. Ondanks sy gesondheidsprobleme onthou sy hom as ’n pragtige seuntjie wat hard baklei het. Die familie het Harlouw in Desember 2023 aan die dood afgestaan. Sy afsterwe het ’n diep leemte in Lou-Lita se lewe gelaat.
“Alles wat sy gedoen het, het sy vir Harlouw gedoen,” sê Miané. Lou-Lita het sedert 2014 met diabetes geleef. Volgens Miané het haar bloedsuikervlakke die afgelope jaar moeilik beheerbaar geraak en het sy herhaaldelik nier- en blaasprobleme ondervind. Tydens ’n hospitaalopname vroeg in September is ’n swaminfeksie volgens Miané ook by haar vasgestel.
Ondanks behandeling het haar toestand verswak. Sy is later na die intensiewesorgeenheid oorgeplaas nadat haar hart ook verswak het. Miané vertel dat vog in haar longe haar asemhaling verder bemoeilik het. Die mediese span het haar uiteindelik op ’n ventilator probeer plaas. Haar hart het gaan staan en pogings om haar by te bring, was onsuksesvol. Selfs gedurende haar siekbed onthou Miané haar sussie se glimlag en moed.
“Sy het alles aangepak met soveel moed en soveel selfvertroue,” sê sy. Hul ma, Sunette, asook Miané se man, Ivan, was deur die moeilike tyd groot bronne van liefde en ondersteuning. Die skool het ook ’n hartroerende boodskap op sy Facebookblad geplaas: “Die wêreld is beslis armer, maar die hemel is ’n engel ryker.” Haar gedenkdiens vind op 12 November om 14:00 vanuit die Kompas
