Marita se Innibos-kuier ‘n reis terug na die verlede
"Stick with me, baby. Ek kan nie belowe dat ek jou famous sal maak nie. Maar jy sal fun hê langs die pad.” Hierdie plofsin is 'n uittreksel uit Marita van der Vyver se boek oor hoe tieneronskuld verloor word, Die dinge van 'n kind, wat eersdaags heruitgereik gaan word en by Innibos onder meer bespreek sal word. Van der Vyver gebruik haar jare in 'n Nelspruit-koshuis as agtergrond vir die verhaal.

MBOMBELA – Marita van der Vyver erken ruiterlik dat die jare wat sy in die kosskool was by Hoërskool Nelspruit miskien nie die gelukkigste in haar lewe was nie, maar dit het wel tot inspirasie vir haar 2005-boek, Die dinge van ‘n kind, gelei.
Haar matriekjaar in 1975, wat ook die Afrikaanse Eeufeesjaar is, was ook ‘n draaipuntjaar vir Van der Vyver want sy het ‘n landwye digkunswedstryd gewen en so ‘n studiebeurs van vier jaar losgeslaan. Hiermee het sy aan die Universiteit van Stellenbosch gaan studeer.
Van der Vyver se familie het ‘n klein plasie naby Hazyview besit waar daar met piesangs, mangoes en avokado’s geboer is.
Dit is juis hierdie subtropiese omgewing van geil groenheid wat die agtergrond vorm in die roman wat ‘n grootwordstorie uit die 1970’s is en waarin die hoofkarakters hul onskuld verloor. Vir Mart en haar vriendin Dalena is dit ‘n tyd van seksuele ontdekking, ‘n gehuil oor ouens wat aan die grens sterf en ‘n kennismaking met dwelms en aborsie.
Die roman is ‘n eerlike kykie na hoe wit Afrikaanse meisies in die sewentigerjare grootgeword het, die vergete oorlog in Angola en die jaar toe Suid-Afrika onteenseglik verander het, 1976. Vir vele lesers, ‘n bevrydende boek en dalk ook vir ‘n nuwe generasie lesers ‘n kykie na ‘n tyd waarvan hulle dalk nog net verlangs gehoor het. Dit is ‘n dokument oor ‘n dekade wat drasties verskil van vandag. Tog, wanneer dit oor die sake van die hart (en die lyf!) kom, sny Van der Vyver se stem oor grense van tyd.

Van der Vyver het Mbombela 40 jaar gelede verlaat en het nog net een keer teruggekeer om navorsing vir die roman te doen.
Die 2016-weergawe daarvan verskyn eersdaags op die rakke met ‘n splinternuwe omslag.
Dit is juis oor hierdie nuwe uitgawe van ‘n ou gunsteling sowel as die nuwe uitgawe van haar brieweroman oor ‘n geskeide vrou wat na wraak smag, Dis Koue Kos, Skat, waaroor sy ook by ‘n uithang-geleentheid by Innibos met skrywer en skilder Andries Bezuidenhout kom gesels.
Hierdie korrespondensie wat oor ‘n dekade geskryf is, is ook die verhaal van die rolprent met dieselfde titel wat in Augustus by Suid-Afrikaanse fliekteaters begin draai. Clara maak in die rolprent ‘n nuwe begin na haar man se ontrouheid met haar beste vriendin. Hy het haar en haar drie kinders vir een van haar vriendinne gelos. En boonop vir iemand wat nie kan kook nie!
Van der Vyver skryf met ‘n pen gedoop in galgehumor en selfspot maar daar is tog ‘n ondertoon van ‘n vrou wat deur woede tot by die fase van aanvaarding moet kom. Sy koester wydreikende wraakgedagtes totdat sy uiteindelik besef sy is van haar eksman op meer as een manier ontslae.
Angelique Gerber speel een van die rolle in die film en gesels in die videosnit so daaroor:
Van der Vyver is die hoofspreker by Woorde Innituin op Vrydag 1 Julie om 13:00 by die Suikerbossie-teetuin op die Barbertonpad (R40). Sy tree ook op saam met Elvis Blue in die Sudwala-grotte tydens die Sappi Boeke-crawl, waarvan die kaartjies oudergewoonte reeds almal opgeraap is. Daar is egter nog kaartjies beskikbaar vir Woorde Innituin.
Meer oor Innibos hier.
Bezuidenhout, wat vele kunstenaarshoede dra as digter, musikant en landskapskilder, sal ook van sy werk voorlees. Sy skilderye, met ‘n deurlopende tema van landskappe eie aan Suid-Afrika, word uitgestal en sal te koop wees. Van der Vyver het onlangs met haar tienerroman, Swemlesse vir ‘n Meermin, die SA Akademie se Scheepersprys vir Jeugliteratuur gewen.





