Top radio-broers het stemme van goud
Broers van Pretoria is top op bekende radiostasies se musieklys.
Corlia Kruger
Dit is pure talent en miskien iets in die gene. Heino Robberts en Ivan Van den Heever is broers en het beslis ’n musikale aanvoeling en talent om te sing.
Die broers seëvier met hul top sangtreffers wat die afgelope paar maande op bekende radiostasies uitgesaai word.
Hulle is ’n sensasie op Springbok Internet Radio waar hulle die afgelope weke onder die Springbok Top 20 bly en eerste of tweede plek met hul unieke treffers deel.
Springbok Internet Radio is ’n Suid-Afrikaanse radiostasie waar musiekkunstenaars hul nuwe of bestaande treffers weekliks kan inskryf. Luisteraars stem dan vir hul gunsteling liedjies vir die Top 20.
Rekord het met dié twee sangers in Montana gepraat om meer oor hul sukses in die musiekbedryf te wete te kom.
Heino, verhoog naam Heino Robberts, is die ouboet en het eerste sy gegewe talent ontdek toe hy nog jonk en sommer vir pret saam met sy kleinboet gesing het. Hy is op 24 September 1986 in Pretoria gebore.
Heino het sy droom van jongtyd om in die musiekbedryf te werk gevolg, en het nou groot naam vir homself as professionele kunstenaar gemaak.
“Op laerskool het ek na een van Nádine se konserte gaan kyk,” vertel Heino. Daar het die sanggogga hom gebyt. Sing wou Heino sing.
Heino het sy hoërskoolloopbaan in Standerton voltooi en in graad 11 sy eerste enkelsnit by die bekende Hannes Schoeman opgeneem.
Daarna het hy ’n kort album met slegs vier liedjies in 2007 opgeneem. Die titelsnit van die album: Steel my hart was ’n groot sukses en het op Bosveld Stereo vir maande gespeel.
In 2010 met ’n nuwe CD-opname is Heino se liedjie Die afkopsoldaat gebruik as RSG-radio se temalied vir hul spookprogram.
As liedjieskrywer en sanger het Heino groot opslae in plaaslike koerante gemaak. Hy het ’n volledige album met 12 liedjies op geskryf.
Alles op dié album bevat lewendige instrumente en was by vervaardiger André Hartman opgeneem.
Hartman is verantwoordelik vir drie van Juanita du Plessis se albums: Ek en jy, Dis waar ek wil wees en Jy is wat almal trippel platinum status bereik het.
Een van die liedjies op sy album, Lewensdrome, pronk al die afgelope 15 weke onder Springbok Internet Radio se Top 20-liedjies. In dié tyd bereik hy twee keer eerste plek op die lys.
Hy het sy liedjie Meisie van my drome vir AllTimeRadio se Top 20 ingeskryf en was onder die Top 10 die afgelope vier weke.
“Groot name in die musiekbedryf soos Clive Bruce het my al met my musiek geluk gewens,” sê Heino trots.
Heino vertel dat hy daarvan hou om liedjies te skryf wat ’n storie vertel. Hy is ’n baie oplettende persoon en luister graag na stories wat hy deur sy musiek met die wêreld kan deel.
Heino se album sal teen einde November verskyn en hy het hoop dat sy nuwe liedjie Hentiesbaai ’n wegholtreffer sal wees.
Ivan, die tweede broer in die gesin, spog nes sy ouboet met ’n merkwaardige stem en talent om liedjies te skryf.
Ivan is op 26 September 1990 in Alexanderbaai, Noord-Kaap, gebore.
Hy het sy skoolloopbaan in Pretoria voltooi en verder onderwys studeer waar hy sy B.Ed-graad met onderskeiding geslaag het en erekleure ontvang het.
Die singgogga het Ivan eers op hoërskool gebyt waar hy in graad 11 sy eerste album opgeneem het. Dié album heet 10 000 keer weer en weer en in ’n week se tyd spog dié treffer demo-album met 2 000 verkope.
In sy tweede jaar as onderwyser, besluit hy om ’n professionele opname van die demo-album te maak en kry ook hulp by vervaardiger André Hartman.
Dié album bevat 10 liedjies waaronder die groot treffer Vat jou goed en trek verskyn. Hierdie liedjie het Springbok Top 20 bereik as nuwe inskrywing en die opvolgende week het dit na die tweede posisie op die lys gespring.
Vir twee opeenvolgende weke was sy treffer nommer een en die laagste posisie vir dié lied was sewende op die ranglys.
Altesaam is sy treffer vir vier weke nommer een in die Springbok Top 20.
Ivan het ook sy liedjie ingeskryf vir AllTimeRadio wat vir maande lank steeds op hulle lys van top treffers bly.
Sy musiekstyl is meer kontemporêr en is lekker-luister musiek vir jonk en oud.
Ivan het groot drome om landwyd herken te word as musiekkunstenaar.
Die twee broers is talentvolle sangers in die gesin en vertel dat hulle ook ’n neef in die musiekbedryf het.
James Loots is berug as die Namibiese-sanger wat met sy weergawe van Dozi se Grassade die eerste plek op die Top 20 bereik het.
Die Van den Heever-gesin vertel omdat hul neef so ver bly het hulle nie van hom geweet todat hulle hom op die Springbok Top 20-lys van name gesien het nie.
Die twee broers vertel hul talent mag dalk wel in hul gene wees, maar lag dan dat hul jongste broer, ’n sportman, glad nie belangstelling in musiek toon nie.
Hulle geniet om tyd saam met hul familie te spandeer en die gesin se gunsteling plek om vakansie te hou is Hentiesbaai – die inspirasie vir Heino se nuutste liedjie.
Die sang-broers se ouers is aktief betrokke by die bemarking en ondersteun hul seuns in alle uitdagings.
Vir ontspanning is Heino lief vir skilder en die versameling van antieke items en oudhede. Ivan sê hy is besig met skoolwerk en voorbereiding, maar geniet kreatiewe skryfwerk en skryf ook vir ontspanning.
Daar is ’n blink toekoms wat op dié twee sangers en liedjieskrywers wag.
Om meer van hulle te weet, volg hulle op Facebook en Twitter.
Luister na Ivan se liedjie: ‘Vat jou goed en trek’:
Luister na Heino se liedjie: ‘Lewensdrome’:
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.




