Gewilde sanggroep se nuwe enkelsnit en musiekvideo is môre op platforms beskikbaar
"Rondomtalie" volg in die suksesvolle voetspore van vorige treffers soos "Waar lê jou hart", "Reënweer" en "River Blues".
Een van Suid-Afrika se gunsteling-rockgroepe, Saarkie, het al diep spore in die musiekbedryf getrap en spog eersdaags met ’n splinternuwe enkelsnit en musiekvideo, “Rondomtalie”.
Die groep het skoonskip by die afgelope Afri-Indie onafhanklike kunstenaartoekennings gemaak toe hulle met die prys vir beste vroulike-rockgroep asook beste alternatiewe album weggestap het.

“Rondomtalie” is ’n enkelsnit vanaf hulle sesde ateljee-album en is ’n Afrikaans folk-liedjie wat gaan oor die rondomtalie van menswees.
Die liedjie is geskryf deur Adèle Fouché, Lila Botha en Christine du Plessis.

“Die lewe vat ’n mens op geheimsinnige paaie en kan ’n mallemeule van oomblikke wees.
“Op ’n dag ontmoet jy iemand, en dit voel of jy die persoon al ’n leeftyd ken – so asof hulle nog altyd daar was, maar die tyd moes eers reg wees,” gesels hulle oor die betekenis agter dié liedjie.
“Soos wat die tyd aanstap, deur die rondomtalie van menswees, besef jy die persoon was eintlik nog altyd daar gewees.”
Volgens die groeplede sal die snit, wat deur Jacques du Plessis van High Seas Studios opgeneem en deur Gustav van Rooyen verwerk is, aanklank vind by ’n wye gehoor, omdat almal al in die lewe ’n rondomtalie van goeie en slegte tye ervaar het.
Die musiekvideo, wat deur Kopwond Films in ’n ou antieke huis verfilm is, vertel die storie van ’n verliefde paartjie wat saam in die huis ingetrek het.
“Die huis is vol geheimsinnige gange en deure wat na nuwe vertrekke lei en nuwe uitdagings bied. In die tuin vind hulle ’n veilige hawe, waar hulle sorgvry kan wees soos toe hulle nog kinders was.”

Wat die video nog meer spesiaal maak, is dat dit in Lila Botha se Die Nagington Manor geskiet is, en dat Francois Jacobs en Shané Pretorius, wat op die kykNET-reeks Op My Eish! ontmoet het, die hoofrolle vertolk.
“Rondomtalie” volg in die suksesvolle voetspore van vorige treffers soos “Waar lê jou hart”, “Reënweer” en “River Blues”.
Loer hier na ’n vorige liedjie:
Die 16-jarige van Pretoria en die seun van die bekende musikant Rixi Roman, Angelo Roman is ook deesdae saam met die groep as baskitaarspeler te sien.
“Angelo is baie musikaal en het ’n besonderse aanvoeling vir musiek.”

Die groep om volgende jaar na Nieu-Seeland en Australië te toer.
Saarkie bestaan al vir 16 jaar.
“Liefde is die saadjie van die liedjie en die boodskap is om die lewe te geniet en die mooi in elke aspek daarvan raak te sien. Suid-Afrikaners hou van sing en dans en dit is presies wat hierdie snit bied,” sê hulle.
Hul nuwe enkelsnit, “Rondomtalie” is môre op alle sosiale media-platforms beskikbaar.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.



