Network Sport

Vuiste klap in finale rondte van Moer ’n Boer

’n Gewese provinsiale rugbyspeler het ondanks ’n beseerde voet ’n swaargewiggeveg gewen en is as algehele kampioen van 'n werklikheidsreeks se seisoen aangewys.

Die finale toernooi van die gewilde kykNET-werklikheidsreeks, Moer ’n Boer, is Saterdag (19 September) by die Heartfelt Arena oorkant die Voortrekkermonument in Centurion aangebied, berig Pretoria Rekord.

Soos met die meeste werklikheidsreekse word kykers oor dertien episodes meegesleur met die doen en late van al die boere wat inskryf, maar die uiteindelike fokus is op die manne se voorbereiding om aan die finale gemengde gevegskuns toernooi deel te neem.

In aanloop tot die finale toernooi word die boere onderwerp aan intense opleiding in gemengde gevegskuns, terwyl hulle ’n strawwe kondisioneringsproses ondergaan.

 Hierdie fase word  onder die wakende oog van ’n mediese praktisyn gedoen en die deelnemers se gesondheid en fiksheid word gemonitor.

’n Verdere uitdunproses, waarby ook ander sportsoorte én plaasaktiwiteite in spanverband betrokke is, lewer dan uiteindelik die boere wat aan die finale toernooi deelneem.

Die boere wat aan dié aksie deelgeneem het, is weer in twee spanne – die Rooispan teen die Blouspan – opgedeel.

Ryno de Jager was die gunsteling om sy swaargewiggeveg teen Corné van der Merwe te wen. Foto: Charmaine Visser

Boere slaan vuis in Khaki

Nog een van die reeks se unieke kenmerke is die feit dat almal in Khaki-uitrustings veg. Die deelnemers kry volgens gevegskuns tradisie ook almal byname en vanjaar is ondersteuners blootgestel aan innoverende name soos Rob ‘Broodboom’ Robberts, Hannes  ‘Tarrentaal’  Bornman, JW  ‘Ouer Skouer’ Dercksen, ‘Franco Roes’ Venter en Jannes ‘Kool Inspekteur’ Snyman.

Die gevegte vind plaas oor drie rondtes. Daar word vuisgeslaan, geskop en gestoei en geen genade word gevra of gegee nie.

Eregaste soos die wêreldbekende gemengde gevegskuns ghoeroe, Morné Visser, afrigter van UFC kampioen Dricus du Plessis, asook die wenner van die sterkman-wêreldkampioen, Rayno Nel, was langs die gevegshok om die vegtende boere te ondersteun.

Voordat die boere mekaar in die gevegshok kon aandurf is die toernooi afgeskop met drie gevegte in Versus Promosies se liga. Hierdie aksie het die skare voorberei vir die opwinding wat sou volg.

Die meeste gevegte is in die die swaargwig kategorie beslis, maar daar was ook lig-swaargewig, middelgewig en weltergewig gevegte.

JW Dercksen (links) probeer uit Wiehan Dippenaar se greep kom tydens hul geveg in die ‘Moer ’n Boer-toernooi. Foto: Charmaine Visser

Regterhaakhoue stuur De Jager planke toe

Die enigste geveg wat met ’n uitklophou beëindig is, was die swaargewig tweestryd tussen Corné van der Merwe en Ryno de Jager. Van der Merwe was op ’n stadium in die moeilikheid, maar met twee desperate agtereenvolgende regterhaakhoue het hy De Jager verras en hom planke toe gestuur om die oorwinning te beklink.

Drie gevegte is deur tegniese uitklophoue beëindig, drie wenners het hul teenstanders met die smoorgreep metode oorrompel en drie gevegte is deur die beoordelaars se telkaarte met punte beslis.

Hoewel die kompetisie in spanverband aangebied word, word ’n algehele kampioen van die reeks ook aangewys. Faktore soos algemene prestasie tydens die reeks, asook ’n stemming deur kykers en ondersteuners, bepaal uiteindelik die algehele kampioen.

Die gewese provinsiale rugbyspeler, Henko Marais, wat op sy dag as senter vir die Luiperds en die Pumas uitgedraf het, het sy swaargewiggeveg, ten spyte van ’n beseerde voe,t teen Hannes Malan gewen. Marais is as algehele kampioen van Moer ’n Boer se derde seisoen aangewys.

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Die artikel is deur ’n sportjoernalis van Pretoria Rekord geskryf.

Related Articles

Back to top button