Lifestyle

Is kos jou dwelm?

Net soos dwelmafhanklikes, het kosafhanklikes nie beheer oor dié probleem nie. Hulle kan nie stop nie, al wil hulle.

Aaa … wat sal jy nie gee vir ’n blokkie sjokolade nie? Eintlik ’n blok. Genóég. Nee, báie. Wanneer ’n sjokoladelus jou oorval, verander die smagting daarna in ’n bose diktator wat jou hiet en gebied. Hy jaag jou na al jou bêreplekke toe en as daar niks meer oor is nie, dwing hy jou winkel toe. Hy wag nooit beleefd tot julle tuis is nie. Jy moet hom nóú, soos in dadelik, voer. ’n Blokkie per dag is nooit genoeg nie. Hy eis álles. Hy is gulsig en gryperig. Net sjokolade kalmeer jou monster. En net vir ’n rukkie, want hy ken nie versadiging nie.

As dit jou storie is, is jy potensieel meer as net gek na sjokolade.

Verslawing is ’n baie sterk woord, sê dr. Ashley Gearhardt, wat die Yale Food Addiction Scale (YFAS) ontwikkel het. Die skaal word wyd gebruik om kosafhanklikheid te identifiseer.

“Daar ís sterk ooreenkomste tussen die gedrag van mense wat afhanklik van dwelms is en mense wat sekere kossoorte oormatig eet.

“Navorsing wat sedertdien gedoen is, wys selfs dat die brein van ’n kosverslaafde biologies presies dieselfde op kos reageer as wat die brein van ’n dwelmafhanklike op dwelms reageer.”

Afhanklikes reageer anders op kos as ander mense. Dit is ’n fisieke smagting wat niks met honger of versadiging te make het nie

Net soos dwelmafhanklikes, het kosafhanklikes nie beheer hieroor nie. Hulle kan nie stop nie, al wil hulle. Hulle kies kos ten koste van hulself. Nie eens erge negatiewe gevolge, soos dat hul verhoudings verbrokkel, dat hulle hul werk verloor, dat hulle siek raak, of dat hulle hulself in armoede in eet, skrik hulle af nie. Dit is ’n fisieke smagting wat niks met honger of versadiging te make het nie. Afhanklikes reageer radikaal anders op kos as ander mense.

“Daar is ’n tipiese patroon van ontwikkeling. Namate hul afhanklikheid toeneem, eet hulle al impulsiewer en reageer al sterker op kosprikkels. ’n Kosadvertensie waarop ander mense nie eens reageer nie, word ’n onweerstaanbare prikkel wat hulle dadelik, onkeerbaar na hul dwelmkos dryf, ongeag of hulle honger is of nie.”

Dit beteken nie dat elke lekkerbek ’n kosverslaafde is nie, sê Kathryn de Gouveia, ’n Kaapse terapeut wat in kosafhanklikheid spesialiseer. “Jy kan ook maar net ’n emosionele eter of ’n ooreter (binger) wees, en eet weens eensaamheid, angs, woede, verveling, of omdat jy sleg voel oor jouself, en so aan.”

Anders as emosionele eters wat troos uit verskeie kosse of groot hoeveelhede kos put, fokus die meeste kosafhanklikes op net een kos, of net een soort. “Mense kan letterlik aan énige kossoort verslaaf raak – selfs aan blaarslaai, broccoli en appels.”

Die verslawendste kosse

Maar sekere kosse leen hulle baie sterker hiertoe – veral dié wat weens ’n hoë suiker-, stysel- en/of olie-inhoud wel reaksie in die brein ontlok.

Dr. Erica Shulte van die Universiteit van Michigan het in haar navorsing juis op dié top-dwelmkosse gefokus en volgens haar artikel, “Which Foods May Be Addictive?” wat op die navorsingswebwerf PlosOne gepubliseer is, lyk die lys so:

Drinkgoed
Veral gaskoeldrank maar ook ander koeldranke met baie suiker.

Soetgoed
Sjokolade, lekkergoed, roomys, koekies, koek, tert.

Styselkos
Brood, broodrolletjies, pasta, rys, beskuit.

• Soutgoed
Aartappelskyfies, pretzels, soutbeskuitjies.

Olierige kos
Slaptjips, kaas, pizza, burgers, spek, oliebolle, vetkoek.

Hoeveel mense gebruik kos as ’n dwelm?

Dr. Pursey Kirrilly van die Universiteit van New Castle in Australië het vir sy meta-ontleding die syfers gebruik van die meer as 1 000 ondersoeke op 196 211 deelnemers wat sedert 2009 volgens die YFAS as afhanklik geïdentifiseer is, en gevind dat:

• 19,8% van die algemene bevolking is kosafhanklik
• 24,9% van oorgewig mense is kosafhanklik, teenoor 11,1% van mense met ’n normale gewig
• Dubbel soveel vroue as mans is kosafhanklik: 12,2% teenoor 6,4%
• 7,2% van kinders onder 18 is kosafhanklik; 17% van mense onder 35 en 22,2% van mense bo 35 kwalifiseer.

Om perspektief te gee: volgens ’n artikel in die SA Medical Journal deur dr. Priscilla Reddy van ons HSRC, rook 17% van ons bevolking. Volgens die feitekontrole-organisasie, AfricaCheck, voldoen 8,8% Suid-Afrikaners aan die kriteria vir alkoholafhanklikheid en kwalifiseer 4,5% as dwelmafhanklikes.

Wat as jy verslaaf is?

Kathryn sê die eerste stap is om ’n sielkundige wat in eetsteurnisse spesialiseer te gaan spreek. “Selfdoenvraelyste is ’n goeie begin maar volg dit op met ’n professionele evaluering by iemand wat in kosafhanklikheid en eetsteurnisse spesialiseer.

“Hy of sy sal ook kan bepaal wat die beste volgende stap vir jou is. Vir sommige mense is psigoterapie ideaal; vir party werk ondersteuningsgroepe; ander vaar beter as hulle opgeneem word in ’n sentrum vir kosafhanklikes, waar hulle net soos dwelmafhanklikes daarvan gespeen word.

“Dit is ongelooflik swaar as kos jou lewe, jou gesondheid, jou verhoudings en jou selfrespek ruïneer maar jy kan dit oorkom.”

Makrolletjies

Toets jouself

Dink aan die afgelope twaalf maande en antwoord. Die YFAS vra min of meer die volgende vrae:

Kos dwelm

Kos dwelm

Lees ook: 11 gesondheidsondersoeke wat vroue moet doe

Die artikel Is kos jou dwelm? het eerste in Rooi Rose verskyn.

Related Articles

 
Back to top button